CommunityLifestylePhoto Galleries

Bekostigbare, veilige en sorgsame dienste vir bejaardes

Samuel Broadbent House is in 1972 as die eerste van 15 tehuise onder die vaandel van Methodist Homes wat in 1970 begin is, gestig. Mev. Muriel Crosier het die behoefte onder bejaardes geïdentifiseer om versorg te word in die gerief van ‘n tuiste waar vrees vir eensaamheid en finansiële druk teengewerk word en geleentheid vir …

Samuel Broadbent House is in 1972 as die eerste van 15 tehuise onder die vaandel van Methodist Homes wat in 1970 begin is, gestig.
Mev. Muriel Crosier het die behoefte onder bejaardes geïdentifiseer om versorg te word in die gerief van ‘n tuiste waar vrees vir eensaamheid en finansiële druk teengewerk word en geleentheid vir kameraadskap en iets om mee besig te bly, bevorder word.
Hierdie droom word vandag nog gerespekteer. Dit het ‘n verdere hupstoot gekry toe Methodist Homes gedurende 2016 besluit het om die “Eden Alternative” pad te volg wat spesifiek ten doel het om eensaamheid, verveeldheid en hulpeloosheid teen te werk.
‘n Paar interessante feite:
* Die Christenboodskap is in 1822 vir die eerste keer na Transvaal gebring deur twee Metodiste sendelinge, eerwaarde T.L. Hodgson en eerwaarde Samuel Broadbent, na wie die tehuis vernoem is. Saam het hulle die eerste sendingkerkie by Makwassie opgerig.
* Gedurende 1865, ongeveer die sterftejaar van eerwaarde Samuel Broadbent, het die Engelse inwoners van Potchefstroom ds. Andrew Murray van die Nederduits Gereformeerde Kerk genooi om ‘n diens hier te kom waarneem.
Hierdie diens is gehou aan huis van mnr. en mev. A.M. Goetz (na wie Goetzstraat vernoem is) en was die begin van die Metodiste Kerk in Potchefstroom.
* Op die hoek van Du Plooy en Greyling (O.R. Tambo) strate was die ou woning van die Webb familie, waarvan Joseph Benjamin Webb een van Suid Afrika se mees geliefde en toonaangewende predikers geword het. J.B. Webb, na wie ons biblioteek vernoem is, was ‘n leerling aan Potchefstroom Boys’ High School.
* Hierdie historiese perseel is aangekoop met die doel om ‘n nuwe aftreeoord te bou en dit is genoem: Methodist Homes-Samuel Broadbent House.
Alhoewel die tehuis sterk sentimentele bande met die Metodiste Kerk het, funksioneer dit onafhanklik van dié kerk.
Dit is ‘n niewingewende organisasie wat reeds 49 jaar in bedryf is en steeds van krag tot krag gaan. Die hoofkantoor is in Johannesburg.
Ten einde in lyn te wees met die omvattende standaard van bejaardesorg en moderne neigings daarvan, het die tehuis die fasiliteit en dienste oor die afgelope paar jaar aangepas en verbeter om minder geïnstitusionaliseer te wees.
Inwoners woon nie waar personeel werk nie, personeel werk eerder waar die inwoners woon.
Hierdie verbeterings sluit in 24 uur sekuriteit, ‘n nuwe gespesialiseerde demensie-eenheid en meer verbruikersvriendelike openbare areas.
Met hierdie moderne en ruim openbare areas en lieflike rustige tuine, word gepoog om vir naasbestaandes ‘n rustige ouerhuis te skep waar hulle hul ouers met gemoedsrus kan laat.
Die status van die fasiliteit is ook verander na troeteldiervriendelik.
Samuel Broadbent bied 24 uur versorging onder direkte toesig van professionele personeel en het slegs een missie: “Om bekostigbare, veilige en sorgsame akkommodasie en dienste vir bejaardes te voorsien”.
Kamers in die versorgingseenheid (Eden) voorsien akkommodasie aan 45 verswakte inwoners en 10 inwoners wat met vroeë demensie gediagnoseer is. Die kostes is R11,460 – R11,570.
Inwoners word bygestaan met alle daaglikse lewensaktiwiteite, terwyl daar deurgaans gepoog word om hulle solank as moontlik onafhanklik te laat funksioneer.
Die “Forget-me-not”-eenheid voorsien gespesialiseerde versorging en akkommodasie aan 35 persone wat met alzheimers- of demensie- verwante siektes leef. Die kostes is R12,010 – R12,220.
‘n Ondersteuningsgroep bring groot verligting en ondersteuning vir die naasbestaandes en versorgers van hierdie inwoners.
Die fasiliteit beskik ook oor 14 eenslaapkamerwoonstelle waarvan lewensreg verkoop word, asook 21 eenslaapkamerwoonstelle wat verhuur word.
‘n Arbeidsterapeut is verantwoordelik vir die daaglikse aktiwiteitsprogram om inwoners te stimuleer om aktief ouer te word.
Samuel Broadbent House is en was nog altyd verbind tot uitnemendheid en is trots op die standaard van diens wat gelewer word.
Samuel Broadbent House hou hul algemene jaarvergadering op Woensdag, 31 Julie om 14:00 in die Samuel Broadbent saal. Alle belangstellendes word genooi om die vergadering by te woon, waartydens die plaaslike komitee verslag sal doen oor die afgelope jaar se werksaamhede en finansiële vordering.
‘n Nuwe komitee gaan ook verkies word vir 2019/2020.
‘n Spesiale dank aan ons borge tydens ons pasafgelope gholfdag wat baie suksesvol was. Hulle is:
Oud Volkies en oud Gimmies
Plumblead
CIA
Catermarket
Montana SPUR
Feedem
Rencharm
Protea boekwinkel
Kampus apteek
Potchefstroom gholf klub
Eastvaal Toyota
AJR
Park fietswinkel
Roccomammas
Wimpy
Ocean Basket
Vir enige verdere navrae, skakel die sekretaresse by (018) 285 0900 of stuur ‘n e-pos na sbb.info@mha.co.za

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button