SportSport

One on One: Lesego Seikaneng

“Ek hou daarvan om met die bal te hardloop en die gapings te kry.

Met die bal in sy hand hardloop Lesego Seikaneng vanaf sy eie doellyn verby talle verdedigers om een van die drieë van die seisoen tydens die Nasionale LSOB Rugbyweek in Bleomfontein vir die Luiperds te gaan druk.

Hierdie is maar net een van die hoogtepunte wat Lesego vanjaar vir beide sy skool, Hoërskool Die Wilge, en sy provinsie in rugby uitgeblink en die mense met sy natuurlike talent laat regop sit het.

“Ek wil die res van my lewe soveel rugby as moontlik speel. Ek is baie lief vir die spel en hou daarvan om drieë te druk,” vertel die 18-jarige ster skrumskakel en heelagter.
“Ek speel rugby al vir 11 jaar,” vertel Lesego wat in Rustenburg sy talent op laerskool ontwikkel het.

Lesego het vanjaar uitgeblink toe hy vir die Luiperds LSOB-span sowel as SA LSOB-spanne gespeel het. Hy was ook die voorste puntemaker by dié week. Hier het hy 56 punte aangeteken wat 7 drieë, 9 doelskoppe en 1 strafskop ingesluit het.
“Om vir die Luiperds te speel was lekker, maar bietjie uitdagend omdat ek my spel in die span moes aanpas,” vertel hy.
“Ek hou daarvan om met die bal te hardloop en die gapings te kry. Ek is soms suinig indien dit nodig is. In ons span plaas ons ‘n groot fokus op hardlooprugby” noem dié drievraat.

Lesego Seikaneng en die hoof van Hoërskool Die Wilge, mnr. Roelf Prinsloo. Foto: Wouter Pienaar
Lesego Seikaneng en die hoof van Hoërskool Die Wilge, mnr. Roelf Prinsloo. Foto: Wouter Pienaar

Volgens Lesego is sy huidige afrigter by Die Wilge se eerstespan, Wikus Geyer, sy grootste leermeester en iemand waarna hy opkyk.
“Mnr Geyer help my baie en spoor my baie aan op die rugbyveld,” vertel Lesego, wat nou al twee jaar vir Die Wilge se eerstespan speel. Hulle is as Noordvaal-wenners gekroon.

“In ons eerste span is dissipline en samewerking die lekkerste deel. Ons is ‘n hegte eenheid” noem hy.
“Die Wilge het my destyds (graad 8) gevra om vir hulle te kom rugby speel. Ek bly tans in die koshuis en geniet dit baie hier. Vir my is Potch ‘n baie lekker dorp omdat hier baie geleenthede vir my is,” noem Lesego wat graag naskool steeds sy rugbypassie sal wil volg.
Die kanse is goed dat die van “Seikaneng” nog op talle wedstrydprogramme en koerantberigte sal verskyn, want hierdie is maar net die begin.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button