SportSport

NWU netbalsterre weer die land se beste universiteitspan

Elsunet du Plessis se netbaldames het in hulle pers en turkoois sportdrag vir Maties met 37-33 in die Superliga A-divisie eindstryd geklop om weer die titel in Potch te huisves.

Netbalglorie is weer vir die Noordwes-Universiteit se netbalspan beskore nadat hulle verlede naweek by Wits in Johannesburg alle teenstanders gefnuik het om die 2019 USSA-titel te verower.

Elsunet du Plessis se netbaldames het in hulle pers en turkoois sportdrag vir Maties met 37-33 in die Superliga A-divisie eindstryd geklop om weer die titel in Potch te huisves.

Dit was eintlik die NWU se deursettingsvermoë en veggees in die halfeindstryd teen Kovsies wat hulle op die regte pad vir eindstryd-sukses gebring het.

In daardie wedstryd teen Kovsies wat hulle met 48-44 gewen het, was hulle in ‘n stadium met sewe doele agter en kon die agterstand inhaal om hul pad na die trofee oop te hou.

Die NWU het laas in 2017 die titel op tuisbodem gewen. Volgens Du Plessis was haar span uitgehonger om weer as wenners gesien te word.

“Ek dink die halfeindstryd teen Kovsies was vir ons ‘n hoogtepunt, aangesien ons tot in ekstra tyd moes speel nadat die wedstryd 36-36 in gewone tyd geëindig het. Dit was ongelooflik om te sien hoe my span geveg het,” noem Du Plessis trots.

Die NWU het besluit om in die USSA-toernooi elke kwart in vyf minute-periodes op te deel en sodoende te fokus op die hier en nou en die wedstrydplanne doelgerig uit te voer.

“Kyk, ons het twee groepwedstryde verloor, twee gewen en een gelykop gespeel, so ons het eintlik eers later in die kompetisie beter netbal gespeel,” noem Du Plessis.

“Wat vir my uitgestaan het was hoe goed ons verdediging oraloor op die baan was. Ons het vinnig van verdediging na die aanval beweeg deur balle op kritieke tye af te vat. Ek is trots op elke speler,” noem die voormalige Protea en Volkie netbalspeler.

Related Articles

Back to top button