SportSport

Springbokheld en rugbyikoon James Small sterf

Small (50) was vir twee jaar vanaf 2013-2014 as afrigter by die NWU Rugbyinstituut en die Luiperds Rugbyunie betrokke

Die voormalige Springbok-vleuel en 1995 Rugby Wêreldbekerwenner, James Small, is vandag (10 Julie) oorlede nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval gekry het.

Small (50) was ook vir twee jaar vanaf 2013-2014 as afrigter by die NWU Rugbyinstituut en die Luiperds Rugbyunie betrokke, waar hy tesame met Robert du Preez groot inspraak op die rugbyveld gemaak het.

Volgens Mervyn Taylor, die Luiperds Rugbyunie president en bestuurder van die NWU Rugbyinstituut, is Small se dood ‘n groot verlies.

“James het ‘n groot verskil by ons gemaak en aan ons rugbyspelers die geleentheid geskep om hulself te bewys. Hy het die seuns kanse gegee en hulle was baie erg oor hom gewees,” noem Taylor.

“As ‘n oud-Springbok was hy baie manne se held en een van die groot geeste van die 1995 Wêreldbekerspan.”

Small het altesaam 47 toetse vir die Springbokke gespeel en 20 drieë gedruk. Small het ook vir die Westelike Provinsie en die Natal Sharks uitgedraf.

Wie sal ooit James Small se onvergeetlike stryd teen die All-Black reus, Jonah Lomu in die 1995 Rugby Wêreldbekerstryd vergeet?

Daar het die kort, kragtige en spoedige Small vir Lomu ore aangesit en keer op keer gestuit. Vir baie Suid-Afrikaners is Small een van die groot geeste van die seëvierende 1995 Springbok Rugby Wêreldbekerspan. Nou is albei hierdie legendes op ‘n beter plek.

Related Articles

Back to top button