SportSport

Bergfietsry is Joné van Eeden se leefstyl

Die wilskrag en deursettingsvermoë om haar beste te gee en nie op te gee nie, is iets wat kenmerkend van haar is. Dit gekombineer met haar liefde vir fietsry maak haar ‘n gedugte opponent op twee wiele.

Fietsry is vir die 17-jarige Joné van Eeden nie net ‘n sport nie, maar ‘n leefstyl.

Hierdie tiener van Potchefstroom Gimnasium het al van jongs af ‘n soort aantrekkingskrag vir dié groeiende sportsoort gekry en nou is sy besig om medaljes en podiumplekke sonder moeite in te samel.

Van Eeden se jongste suksesverhaal was in die SA Jeug Padfietskampioenskappe in Westville waar sy ‘n derde plek in die o.19-kategorie losgery het. Dit is merkwaardig omdat dit die eerste padfietswedren was waaraan sy deelgeneem het. Van Eeden is eintlik ‘n bergfietsryer wat daarvan hou om die klippe, klimme en klowe aan te durf.

Foto’s: Verskaf

“Ek was baie verbaas om derde te kom en dit was ‘n lekker wedren. Ons het die eerste drie rondtes baie kat en muis gespeel en later het ek teruggesak. Ek het wel weer spoed gebou en vir myself gesê dat al die harde werk nie verlore kan gaan nie. Ek het toe op die einde ‘n paar ander fietsryers verbygesteek om derde te kom,” noem Van Eeden.

Die wilskrag en deursettingsvermoë om haar beste te gee en nie op te gee nie, is iets wat kenmerkend van haar is. Dit gekombineer met haar liefde vir fietsry maak haar ‘n gedugte opponent op twee wiele.

“Ek het in Graad 7 begin ry, omdat my pa en broer toe ook fietsgery het. Ek het dit ongelooflik baie geniet en was altyd gretig om te gaan ry,” vertel sy van haar beginfase as fietsryer.

Van Eeden word nou as een van die land se top bergfietsryers in haar ouderdomskategorie bestempel en het ook borge wat bankvas agter haar staan. Sy ry juis met ‘n Head AdaptEdge bergfiets, wat aan haar geleen is om die seisoen mee aan te durf. Positive Sports Solutions borg Van Eeden en sien baie potensiaal in hierdie fietsryer.

Toe Van Eeden eers aan kompetisies in graad 8 deelneem en die stof in ander se oë ry, het sy geweet dat fietsry vir haar is – al vat dit baie harde werk en ‘n doelgerigte houding.

Die bergfietssukses hardloop ook in die gesin met broer Brendan, wat al ook ‘n paar groot oorwinnings op sy saal op skoolvlak behaal het. Brendan ry nou tans vir die NWU Fietsryspan en neem aan die USSA-fietsrytoernooi in Stellenbosch deel.

“Ek het in graad 8 begin om aan die Spur Bergfietsreeks deel te neem en goed daar gevaar. Dit was nogal ‘n groot aanpassing om toe aan die SA Cup-reeks deel te neem, aangesien die kompetisie en roetes moeilik is,” noem Van Eeden.

2018 was ‘n uitblinkjaar vir hierdie fietsrysensasie wat by die uitdagende Mankele-roete in Sabie tydens die SA XCO-kampioenskappe gewen het en ook algeheel tweede in die reeks geëindig het.

Sy het ook die Magalies Monster-wedren (half-marathon) gewen, wat ‘n uitstaande prestasie is. Verder het Van Eeden ook die Spur-Skolereeks vir ‘n derde jaar in ‘n ry gewen. Wat is die geheim van hierdie Potchefstromer se konstante sukses?

“Harde werk, oefening, passie en afrigting wat krag-spesifiek fokus op die hoeveelheid watts wat ‘n fietsryer uitsit,” verduidelik Van Eeden.
“Ek oefen 8-12 ure per week en fokus dan drie keer ‘n week op intervalle. Die doel is om te oefen sodat jy jou beste gee by die groot SA Kampioenskappe, soos die SA Marathon en SA XCO-wedrenne,” verduidelik sy.

Aangesien bergfietsry ook ‘n element van gevaar ten opsigte van die roetes inhou, glo sy dat beserings maar deel van die sport is, en dat die goeie tye en vriendskappe wat gesmee word opmaak vir die pynlike tye weg van die fiets af.

“Ek het al my vingers gebreek en ‘n paar keer steke gekry. ‘n Mens val maar hard van ‘n fiets af. Die vriendskappe wat ‘n mens bou is lewenslank en die natuurskoon wat ‘n mens ervaar op roetes is iets wat geen ander sport jou bied nie,” sê Van Eeden met ‘n glimlag.

In die toekoms sal Van Eeden ook na skool verder aan van Suid-Afrika se grootste bergfietswedrenne soos die Wines2Whales, Sani2C en Cape Epic wil deelneem.
“Ek gaan net ‘n baie goeie fietsryer as ’n spanmaat saam met my moet hê ook, maar ek sien baie uit om eendag daaraan deel te neem.”

Related Articles

Back to top button