NewsNews

Meeste pitbulls nog in PAWS se hokke

Daar is in dié stadium 15 pitbull terriër honde in PAWS se hokke, meer as wat daar al ooit op ’n slag by PAWS was.

Daar is in dié stadium 15 pitbull terriër honde in PAWS se hokke, meer as wat daar al ooit op ’n slag by PAWS was.

Volgens Cecilia Marais van PAWS is hulle bekommerd oor die vlaag pitbulls wat die afgelope paar maande aan PAWS afgeteken is.

Cecilia reken die probleem is mense wat ’n pitbull kry met die idee dat dit as ’n waghond sal dien, sonder om daaraan te dink dat so ’n hond eintlik baie liefde en aandag verg.

Sy sê mense moet ook versigtig wees om ’n pitbull te kry aangesien dié honde gereeld in hondegevegte gebruik word, en dit ’n realiteit in Potchefstroom is. Pitbull terriërs word gereeld vir dié doeleindes gesteel.

Cecilia sê verder dat indien iemand graag ’n pitbull wil aanneem, hulle eers behoorlik navorsing oor die tipe hond moet doen sodat hulle weet hoe om so ’n hond op die beste manier te hanteer.

Volgens ’n artikel deur Hill’s Pet Nutrition is meeste pitbull terriërs vriendelik, spelerig en liefdevolle gesinshonde, maar soos enige ander tipe hond, is daar altyd uitsonderings.

Behalwe vir hul sagte, liefdevolle geaardheid, kan pitbulls ook besige, hardkoppige honde wees en moet hulle liefs nie alleen saam met kinders gelaat word nie.

Aangesien die Amerikaanse pitbull terriër in die verlede as ’n vegterhond geteel is, word die hond steeds vandag nog deur baie as ’n wrede, gevaarlike hond gesien, wat meestal nie so is nie.

’n Pitbull is ’n hond wat prooi-gedrewe is en aard dus nie maklik saam met katte en ander kleiner honde nie, maar hulle word beskryf as honde wat goed met mense aard.

Pitbull terriërs is in die algemeen tog liefdevolle, spelerige honde met hoë energievlakke. Hulle verg daarom baie aandag en liefde en kan vir sommige mense as stout of moeilik hanteerbaar voorkom.

Zak George, ’n Amerikaanse hondekenner en skrywer, sê net omdat ’n hond opgelei kan word om gewelddadig te wees, dit nie beteken dat die hond inherent gewelddadig is nie.

Hy sê pitbull honde is slim en maklik om op te lei, en dit kan een van die redes wees waarom mense hulle vir onwettige hondegevegte gebruik.

Zak het in ’n video oor pitbulls gesê dat dit waar is dat honde gewelddadige uitbarstings kan kry weens opgeboude energie, maar dit is so vir enige hond en nie net ’n pitbull nie.

’n Pitbull, en ander honde met hoë energievlakke, moet dus genoeg oefening kry, veral in die oggende.

Om meer uit te vind oor die pitbull terriërs wat by PAWS vir aanneming beskikbaar is, skakel PAWS by 071 681 9264 of (018) 294 3856 of besoek PAWS by Viljoenstraat 2.

* PAWS doen agtergrond ondersoek en huisbesoeke voor enigiemand honde, en veral pitbull terriërs en ander sterk rasse (power breeds) kan aanneem.

Related Articles

Back to top button