NewsNews

Studente veilig na koshuisbrand

Op Sondag 26 Mei het 'n brand in die dak van Puk Dorp A, een van die koshuisgeboue op kampus, uitgebreek.

Studente van ‘n koshuis op die NWU se Potchefstroomkampus is veilig na ‘n brand in dié koshuis se dak uitgebreek het.

Op Sondag 26 Mei het ‘n brand in die dak van Puk Dorp A, een van die koshuisgeboue op kampus, uitgebreek. Die brand het ontstaan weens ‘n kortsluiting deur een van die warmwatertoestelle in die gebou.

“Die flinke optrede van die NWU-brandweer het die skade tot die dakstruktuur beperk,” het Johan Duvenhage, hoof van Gasvryheidsdienste in ‘n brief aan koshuisouers gesê.

Duvenhage het ouers gerus gestel dat studente wat in dié koshuis woonagtig is, tydelik na die NWU Astrovilla verskuif is om enige ongerief te voorkom.

Die universiteit gaan ook die studente se klere en beddegoed laat was om enige rookreuk daaruit te verwyder. 

“Wees verseker dat ons ons uiterste bes doen om die studente met so min as moontlik ontwrigting te akkommodeer totdat die perseel herstel is,” het Duvenhage gesê.

 

Related Articles

Back to top button