NewsNews

Drie jaar na slagpale-moord duur verhoor voort

Drie jaar na die moord op mnr. Koos van der Leeuw sal die verhoor Maandag (10 Desember) in die hooggeregshof voortgaan.

Drie jaar na die moord op mnr. Koos van der Leeuw sal die verhoor Maandag (10 Desember) in die hooggeregshof voortgaan.
Die saak is reeds talle kere om verskeie redes uitgestel.
Aanvanklik was daar probleme met Tefu Mohua en Samuel Motsi, wat op borgtog vrygelaat is, se regsverteenwoordiging.
Daarna het dié twee beskuldigdes by verskillende verskynings aangevoer dat hulle siek was.
Tefu Mohua, Samuel Motsi, Aida Lebaka en Bibi Nycamphalala word aangekla van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede. Dit nadat hulle glo vroegoggend by die aanval by die Potchefstroomse slagpale op mnr. Van der Leeuw betrokke was.
Die dood van mnr. Van der Leeuw, beter bekend as oom Koos, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.
Gewapende rowers het mnr. Van der Leeuw en sy vrou, Marietjie, omstreeks 06:00 by die slagpale oorval toe hulle daarheen gery het om ‘n kontant transaksie te beklink. Die rowers het sowat R77 000 kontant tydens die rooftog gebuit en mnr. Van der Leeuw in die kop geskiet, nadat hy een van die rowers geskiet het.
Marietjie het tydens die skietery in hul bakkie platgeval en gemaak of sy dood is.
Sy was ongedeerd, maar die swaar gewonde mnr. Van der Leeuw het enkele ure later in die hospitaal gesterf.
Die rower wat hy geskiet het, is glo later in sy makkers se wegkomkar dood. Hulle het hom toe glo uit die voertuig gegooi, waarna die oorlede rower se familie ‘n lykbesorger betaal het om die liggaam te begrawe.
Selfoonrekords wys glo al vier die beskuldigdes het kontak met mekaar gehad vóór en ná die rooftog, en dat hul selfone almal in die omgewing van ‘n selfoontoring naby die slagpale was toe die rooftog plaasgevind het.
Een van die beskuldigdes, Bibi Nycamphalala, het kort na sy arrestasie sekere uitwysings oor die rooftog en moord gemaak.
Tydens die verhoor het hy aangevoer dat hy aangerand is en gedwing is om dié uitwysings te maak. Aida Lebaka, wat geboorte geskenk het terwyl sy in aanhouding was, het erken dat sy help beplan het aan die rooftog, maar dat sy die dag van die rooftog nie op die toneel was nie.
Haar kind is intussen na ’n familielid geneem. Die verhoor sal na verwagting van 10 tot 14 Desember plaasvind.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button