EntertainmentNewsNews

Korreltjie Kantel ’n moet om te sien by Aardklop

’n Sielsroerende musiekteaterstuk geskoei op die liefdesverhouding tussen digteres Ingrid Jonker en skrywer André P. Brink. Met drie uitmuntende musikante en liedjieskrywers word Jonker se gedigte en die liefdesbriewe wat tussen die twee skrywers gewissel is, meesterlik omskep in hoendervleismooi musikale verwerkings.

Korreltjie Kantel is nie onbekend aan inwoners van die Noordelike provinsies nie. Die musiek speel al ‘n geruime tyd op RSG.

Die CD is vir ‘n SAMA-toekenning genomineer vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album en sosiale media wemel met foto’s van en kommentaar oor optredes by feeste soos die Woordfees, KKNK, die Vrystaat Kunstefees en die Kalfiefees. Dit is ongelukkig nie elke dag wat liefhebbers van gehalte musiek, literatuur en Afrikaans in Gauteng en Noordwes die geleentheid kry om die groep Kaapse kunstenaars in lewende lywe te aanskou nie. Die geleentheid is uiteindelik hier. Die vervaardiger, Iluminar Produksies, bring Korreltjie Kantel na die Aardklop Kunstefees vir drie eksklusiewe optredes. Korreltjie Kantel (‘n aanvanklike opdragproduksie vir die RSG Kunstefees) het sedert laat 2015 ontwikkel van ‘n radioproduksie tot ‘n volskaalse musiekteaterproduksie wat die liefdesverhaal tussen ikoniese skrywers Ingrid Jonker en André P. Brink uitbeeld. Wessel Pretorius vertolk die rol van André P. Brink saam met Christine Truter, wat op haar beurt die rol van Jonker vertolk. Die musiek is gekomponeer en verwerk deur Luna Paige, Nick Turner en Jamie Jupiter. Die teks is verwerk en ontwikkel deur Luna Paige en die regie is behartig deur Mareli Pretorius (dosent aan die US Drama Department in Stellenbosch).
Samevatting van Korreltjie Kantel:
’n Sielsroerende musiekteaterstuk geskoei op die liefdesverhouding tussen digteres Ingrid Jonker en skrywer André P. Brink. Met drie uitmuntende musikante en liedjieskrywers word Jonker se gedigte en die liefdesbriewe wat tussen die twee skrywers gewissel is, meesterlik omskep in hoendervleismooi musikale verwerkings.
Die produksie is in die Elgro Hotelsaal tydens Aardklop te sien en wel op die volgende dae en tye: 4 Oktober om 10:30, 5 Oktober om 20:00 en 6 Oktober om 14:00. Kaartjies kos R130 en is by Ticketpro beskikbaar.

Related Articles

Back to top button