NewsNews

Jong Potchefstromer (21) sterf tragies in motorfietsongeluk

'Hy was maar die ou babbelbekkie, nou is dit stil'

’n Jong Potchefstromer is Saterdag tragies oorlede net twee dae na hy sy 21ste verjaarsdag gevier het.
Lucan Jansen van Vuuren het Saterdagoggend 18 Augustus op die N12 tussen Klerksdorp en Potchefstroom vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor en teen ’n boom gebots.

Volgens sy goeie vriend, Stefan Swanepoel, word vermoed dat hy beheer verloor het as gevolg van ’n rukwind, maar dat niemand werklik weet wat gebeur het nie.

Lucan Jansen van Vuuren.  Foto: Facebook
Lucan Jansen van Vuuren. Foto: Facebook

Lucan was die vorige aand in Klerksdorp by ’n vergadering van ’n motorfietsklub en het tussen 01:00 en 02:00 Saterdagoggend alleen teruggery Potchefstroom toe.

Stefan sê iemand het eers omstreeks 06:00 daardie oggend op hom afgekom en die ambulansdienste en polisie ontbied. Lucan was in Hoërskool Die Wilge en het die afgelope paar jaar saam met sy pa Jan as ’n ketelmaker by Sea Engineering (Real Steel) gewerk.

“Die huis is baie stil sonder Lucan,” sê sy ma, Willemien. Sy beskryf hom as ’n spontane jong man met ’n sagte hart.

“Hy was maar die ou babbelbekkie in ons huis. As hy van iewers af gekom het, het hy altyd eers kom vertel van sy dag. Nou is die huis te stil.”

“Hy was ’n mense-mens en sy groot passie was sy werk en motorfietse,” sê Stefan. Lucan het sedert sy kleuterjare ’n liefde vir motorfietse gehad en het altyd saam met sy pa op sy motorfiets gery. Hy was ook deel van ’n motorfietsklub. Volgens sy ma het hy diep in baie mense se harte gekruip.

Lucan se jonger broer, Lucas (15), is nog baie geskok oor die afsterwe van sy broer en hy praat nie eintlik daaroor nie.

Lucan se motorfiets na die ongeluk. Foto: Verskaf

“Lucan het geleef vir sy boetie. Hy het alles vir hom probeer doen en was altyd daar wanneer hy hom nodig gehad het,” sê Stefan. Lucan se pa, wat op 22 Augustus verjaar het, vat dit baie moeilik.

“Deur al die hartseer wil ek sê sy lewe was ’n ride. Hy het voluit geleef en sy lewe geniet,” sê Willemien.
Lucan se begrafnisdiens is op Vrydag 24 Augustus om 10:00 vanuit die Nederduitse Hervormde Kerk-Suid.
Die gesin bedank almal vir hul ondersteuning en wat skenkings aan die gesin gegee het.

“Dankie aan al Lucan se vriende vir julle bystand en boodskappe in die tyd. En dankie aan almal wat nog steeds daar is vir sy kleinboet Lucas,” sê Willemien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button