NewsNews

‘Bloulig-boewe’ buite beheer op N12

’n Vierde kaping deur die berugte ‘bloulig-boewe’ het verlede Woensdag (1 Augustus) op die N12 plaasgevind.

’n Vierde kaping deur die berugte ‘bloulig-boewe’ het verlede Woensdag (1 Augustus) op die N12 plaasgevind.
Al vier kapings het in minder as ’n maand plaasgevind. Die jongste voorval was omstreeks 12:45 op die N12 toe mense in ’n wit Hyundai bakkie wat vanaf Potchefstroom na Brits gery het, voorgekeer is.
Die slagoffers het aan die polisie gesê hulle is na die voorval na Lenasia ontvoer. Die Lenasia polisie het hulle teruggebring na Potchefstroom waar hulle die saak gerapporteer het.
Die polisie het motoriste weer eens gewaarsku om op hul hoede te wees vir sowat vier mense met polisie- of verkeersbeampte-uniforms in ’n wit Volkswagen Polo met ’n blou lig op die dak.
Die modus operandi is dat hulle motoriste deur die dag op die N12 voorkeer terwyl hulle hulself as polisie- of verkeersbeamptes voordoen.
In twee voorvalle is die slagoffers se hande met skoenveters vasgebind, in die Polo se kattebak gelaai en dan iewers buite Potchefstroom afgelaai.
In ’n voorval op Vrydag 27 Julie omstreeks 14:30 is dieselfde modus operandi gevolg, waarna die slagoffer by ’n myn naby Burgersdal in Randfontein afgelaai is.
Met ’n ander slagoffer is tot in Soweto gery waar hulle hom eers vir vier ure in die kattebak gehou het voordat hulle hom daar gelos en weggery het.
Die polisie sê hulle is op die uitkyk vir dié wit Polo. Hulle sê motoriste moet op hul hoede wees. Indien mense onseker is of die beamptes wat hulle voorkeer werklik wetstoepassers is, moet eerder na byvoorbeeld die naaste polisiestasie, ’n vulstasie of ’n ander openbare plek gery word waar daar baie mense is.
Indien iemand ’n wit Polo met ’n blou lig langs die N12 sien moet hulle die registrasienommer neerskryf en die polisie by (018) 299 7477 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button