NewsNews

Potch se Schoemans het wéér die beste mampoer

Vanjaar het Boet weggestap as die mampoer-kampioen sowel as die witblitskampioen.

Potchefstroom se bekende mampoerstoker, Boet Schoeman van Schoemanati mampoer, is op 2 Junie vir die negende keer as die nasionale mampoer-kampioen en vir die tweede keer as die witblitskampioen gekroon.

Boet en Martie Schoeman neem al sedert 1992 aan die jaarlikse nasionale mampoer-kampioenskappe deel. In hul eerste jaar het hulle net ses produkte ingeskryf en weggestap met twee goud-, twee silwer- en vier bronsmedaljes.

Deur die jare het die Schoemans gereeld met goue medaljes weggestap. Boet is in die 26 jaar wat hy deelneem aan die kampioenskappe, al nege keer as mampoer-kampioen gekroon. Sy seun Dawie was verlede jaar die mampoer-kampioen en Boet was vir die eerste keer witblitskampioen.

Boet en Martie Schoeman wys hoe van Schoemanati se produkte oor die jare heen verander het. Foto’s Marianke Saayman
Boet en Martie Schoeman wys hoe van Schoemanati se produkte oor die jare heen verander het. Foto’s Marianke Saayman

Vanjaar het Boet weggestap as die mampoer-kampioen sowel as die witblitskampioen. Dit is die tweede keer in die geskiedenis van dié kampioenskappe dat iemand wegstap met beide hierdie trofeë. Die vorige keer was toe Bobby van der Westhuizen in die 90’s ook een jaar met beide die trofeë weggestap het.

Martie het ook vanjaar ’n paar goue medaljes verower vir haar heerlike likeurs en het die trofee gekry vir die meeste punte vir ‘n likeur. Die Schoemans se regterhand, Moses Fish, wat ook op die Schoemans se plaas gebore is en al die jare nog help met die stokery, het verlede jaar ook ’n trofee gewen vir sy jarelange behulpsaamheid en harde werk agter die skerms.

Moses Fish met die trofee wat hy verlede jaar gewen het vir sy hulpvaardigheid agter die skerms.
Moses Fish met die trofee wat hy verlede jaar gewen het vir sy hulpvaardigheid agter die skerms.

Boet se pa het mampoer gestook en Boet het tussen die ketels grootgeword. Sy pa was die vierde geslag stoker in hul familie en dit is ook waar die naam Schoemanati vandaan gekom het.

“My pa het rooiwyn ook gemaak en dit Schoemanati genoem. Monati beteken ‘lekker’ in Tswana,” sê Boet.

Boet en Martie het opgehou stook vir sowat 15 jaar waartydens hulle geboer het. In 1992 het hulle besluit om weer te begin stook en het die naam Schoemanati behou.

“Dit het begin as ’n stokperdjie,” sê Martie. Hulle het daardie selfde jaar begin deelneem aan die kampioenskappe en in hul derde en vierde jaar is hulle gekroon as die nasionale mampoer-kampioene.

Hoewel mampoerstook harde werk is, is dit die Schoemans se passie.

“My stokperdjie het my besigheid geword,” sê Boet.

Boet het besluit dat hy nie volgende jaar weer aan die kampioenskappe gaan deelneem nie, aangesien hy nou al genoeg trofeë het en hy wil plek maak vir nuwe kampioene. Hy gaan wel nie ophou stook nie en beoog om binnekort in die buiteland te gaan kompeteer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button