NewsNews

25 jaar se diens maar geen toilet

'n Man wat vir 25 jaar by die stadsraad se rioolafdeling gewerk het, wag al 17 jaar vir rioolpype by sy huis sodat hy 'n ordentlike toilet kan gebruik.

As dit reën moet hy met sy rolstoel deur die modder en water na die voorste deel van hul erf ry. Sy vrou moet hom help, want sy rolstoel pas nie ordentlik in die klein sinkstruktuur wat rondom die gat gebou is nie. Sy vrou het ’n sitplek laat opsit sodat dit darem lyk soos ’n regte toilet.

Dit is waardeur Daniel (70) en Elizabeth (53) Moashetse daagliks moet gaan wanneer hulle die toilet wil gebruik.
Die Moashetses, wat in uitbreiding 11 in Ikageng woon, wag al sowat 17 jaar vir ’n rioolstelsel in hul erf sodat hulle ’n toilet kan oprig, maar hulle kry geen samewerking van die munisipaliteit vir wie Daniel vir 25 jaar gewerk het nie.

Daniel wys waardeur hy elke dag moet gaan.
Daniel wys waardeur hy elke dag moet gaan.

Elizabeth moes ’n gat laat grawe in hul erf wat dien as ’n toilet.

“Elke keer as die gat vol raak, moet ons dit toegooi en ’n nuwe een grawe,” sê sy. So skuif hulle toilet elke keer net na ’n ander deel van die erf. “Daar is al vier gate in die erf wat ons moes toegooi.”

Die getroude paar sê dat die munisipaliteit reeds vir meeste van die huise in hul straat rioolpype laat insit het, maar dat die pype by hul bure eindig. Daniel het verlede jaar sy been verloor weens kanker, en dit is nou vir hom moeilik om baie dinge op sy eie te doen, veral om die toilet te gebruik.

Wanneer die nood groot is, moet Elizabeth hom na die kleinhuisie stoot en sy broek aftrek buite die huisie, waar almal hom van die straat af kan sien.

Elizabeth sê dat sy oor die jare al baie gesmeek en gesoebat het dat die stadsraad vir hulle rioolpype kom installeer, maar dat nog niks gedoen is nie. “Ek vra net dat hulle die pype insit, ek sal self ’n toilet insit,” sê sy.

Elizabeth en Daniel met sy 25 jaar dienssertifikaat van die stadsraad.
Elizabeth en Daniel met sy 25 jaar dienssertifikaat van die stadsraad.

Daniel het in 2011 sy sertifikaat vir lang diens by die stadsraad gekry aangesien hy vir 25 jaar vir die stadsraad se departement van infrastruktuur gewerk het. Hy het spesifiek by die rioolafdeling gewerk.

“Na 25 jaar se goeie diens is dit hoe die stadsraad hul mense behandel,” sê Elizabeth.

Sy sê sy kan nie glo dat hierdie man wat soveel jaar vir die stadsraad se rioolafdeling gewerk het, nou nie eers ’n ordentlike toilet kan gebruik nie.

Die woordevoerder van die Stadsraad, Willie Maphosa het departement infrastruktuur om kommentaar gevra, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button