SportSport

Dis jammer dis tyd om Olënpark te groet

Die Potchefstroomse inwoner en gereelde briefskrywer aan Potchefstroom Herald, Izak Smalman, deel sy ervaringe van Olënpark: Olënpark is die eerste groot rugbystadion wat ek as kind besoek het en ek onthou dat ek oorweldig was deur die reusagtige konstruksie, asook die atmosfeer wat tydens rugbywedstryde geheers het. Ek praat nou van 1960 en later. Die …

Die Potchefstroomse inwoner en gereelde briefskrywer aan Potchefstroom Herald, Izak Smalman, deel sy ervaringe van Olënpark:

Olënpark is die eerste groot rugbystadion wat ek as kind besoek het en ek onthou dat ek oorweldig was deur die reusagtige konstruksie, asook die atmosfeer wat tydens rugbywedstryde geheers het. Ek praat nou van 1960 en later.

Die gebruik in ons rugbyland was dat oorsese spanne vir twee maande of meer in Suid-Afrika toer, met die eerste wedstryd wat teen Wes-Transvaal op Olënpark gespeel word. Die toerspan het dan in die Three Fountains hotel in Stilfontein tuisgegaan.
Dit was gewoonlik die Britse en Ierse Leeus, Australië en Nieu-Seeland en later Frankryk. Rugbywedstryde wat ek nie kon bywoon nie, het ek oor die radio na geluister.

Die manne van oorsee het dan na die tyd gewoonlik met hulle eerste beserings gesukkel, want Olënpark was nie maklik nie.
Suid-Afrika het daardie tyd ook ‘n Magte-span saamgestel, bestaande uit spelers van die polisie en weermag. Ek het een so ‘n wedstryd tussen die Magte en ‘n toerspan (kan nie onthou watter een) bygewoon. Spelers soos Piet Uys en Mof Myburgh van die polisie en Willem Stapelberg en Frik du Preez van die weermag het in die Magte-span gespeel. Dit was rof. Ek praat van rof, want toe was daar nie so iets soos vuilspel nie.
Niemand is ooit van die veld gestuur nie en vuilspel is eers heelwat later in die reëlboeke van rugby opgeneem. Die manne het ook nie mondskerms gedra nie, hulle het sommer net hulle valstande uitgehaal.

Ek was as hoërskool-knaap in die koshuis op Ventersdorp en ek en my vrinne het weke voor die tyd beplan om na Olënpark op te ruk vir ‘n groot wedstryd. Ons het dan in groepe van twee-twee duimgery na Potchefstroom.
Ek het onder andere die All Blacks van Wilson Whineray in 1960 gesien speel, asook die Britse en Ierse Leeus in 1962. Ek weet dat Wes-Transvaal op ‘n keer met 9-3 teen so ‘n besoekende span gewen het, maar ek kan nie meer die span onthou nie.

Op een so ‘n rit na word ek en my maat buite Ventersdorp deur boere in ‘n Ford Farlaine opgelaai en die ooms is baie vriendelik. Ek kon sien en ruik dat hulle al die pad vanaf Lichtenburg besig was om vir die groot wedstryd op te warm.
Dit was ‘n Curriebekerwedstryd teen WP of Vrystaat. By Olënpark aangekom is die ooms so gaaf om vir ons elkeen ‘n halfkroon (25 sent) te gee. Die kaartjie het ons elk 1s 6d, gelyk aan 15 sent, gekos. Ons het toe nog geld oorgehad vir ‘n pakkie nartjies. Na die wedstryd het ons weer saam met dieselfde ooms gery en nou was hulle witwarm en moerig en die Ford het teen ‘n verbysterende spoed voort- gesnel. Wes-Transvaal se span het toe verloor en die skeidsregter was glo blind en sommer ‘n regte p…..l! Ter wille van die spangees in die kar het ek maar met die ooms saamgestem.

Ek het in 1969 die wedstryd tussen Australië (kaptein was Greg Davis) en Wes-Transvaal bygewoon. Die losskakel van Wes-Transvaal, Johan van der Schyff, het al ons span se punte aangeteken en ons het die wedstryd gewen. Van der Schyff het later Springbok geword, maar nie in ‘n toets gespeel nie. Daar is later van die Mielieboere gepraat en die Wes-Transvaal span het nog later die Luiperds geword.

Nie lank gelede, so ongeveer die jaar 1997 dink ek, het ek die All Blacks teen Wes-Transvaal op Olënpark gesien speel. Voor die wedstryd het dit so gehael tydens ‘n donderstorm, dat die Kiwis gevra het die wedstryd moet afgelas word. Daar is egter deurgedruk en daardie dag het die Mielieboere se skrumskakel, Eugene Hare, die wedstryd van sy lewe gespeel. Die All Blacks het gewen, maar ek dink hulle sou graag vir Hare in hulle span wou gehad het.
Die laaste wedstryd wat ek op Olënpark bygwoon het, was vier jaar gelede toe die polisie se nasionale rugbykompetisie daar aangebied is. Sedertdien is ek tot my skaamte, ‘n TV-toeskouer van rugbywedstryde.

Die All Blacks en Wes-Transvaal was in 'n behoorlike modderbad betrokke 21 jaar gelede op Olënpark.
Die All Blacks en Wes-Transvaal was in ‘n behoorlike modderbad betrokke 21 jaar gelede op Olënpark.

Ek onthou die groot name wat Wes-Transvaal en Olënpark opgelewer het en verskeie van hulle is nog met ons. André May, Theuns Kruger en Jan Fourie, asook D P Swart is nog in ons omgewing. Die eertydse Springbokkaptein, Johan Claassen, het verhuis. Dan het nog ‘n Bok kaptein, Basie Viviers, later jare as keurder diens gedoen. Daar was ook die karakters soos Piet Baartman, Pine Pienaar en Toy Dannhauzer.

Die spelers wat tans vir die Luiperds speel, beskou ek steeds as “groot name’, dog ongelukkig ken ek hulle nie.
Vir ‘n rugby stadion van ‘n sogenaamde kleiner unie, dink ek Olënpark is steeds strate beter as stadions soos Pam Brink aan die Oos-Rand, Basil Kanyon in Oos- Londen, Boland stadion in Wellington en dié van Welkom in die Noord Vrystaat.
Nou ja, geen struktuur kan vir ewig dien nie, veral as dit nie in stand gehou word nie. Ek hoop van harte ons stadsraad vind ‘n uitweg sodat Olënpark steeds nuttig gebruik kan word en nie in ‘n hool vir plakkers verander nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button