NewsNews

Engel-juffrou gee haar lewe vir haar kleinkinders

’n Juffrou, ma en ouma wat beskryf word as ’n engel, het verlede week gewys wat ware liefde is toe sy haar eie lewe gegee het om dié van haar kleinkinders te red. Vrydag 8 Desember is dié geliefde onderwyseres van Promosa Primêr, Sarie van Wyk, ’n dag voor haar dogter se troue, tragies in …

’n Juffrou, ma en ouma wat beskryf word as ’n engel, het verlede week gewys wat ware liefde is toe sy haar eie lewe gegee het om dié van haar kleinkinders te red.
Vrydag 8 Desember is dié geliefde onderwyseres van Promosa Primêr, Sarie van Wyk, ’n dag voor haar dogter se troue, tragies in ’n kop-teen-kop botsing op die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp betrokke.
Die ongeluk het plaasgevind nadat Sarie, haar dogter Simoné (23), seun Byron (19) en twee kleinkinders Sheriessa (2) en Chezmoné (4 maande) op pad terug was na Potchefstroom.
Sarie het agter in die motor saam met haar twee kleinkinders gesit toe die ongeluk plaasgevind het. Sy het die twee dogtertjies met haar eie liggaam beskerm.
Hulle het Klerksdorp toe gery om die laaste paar goed te gaan koop vir Simoné se troue wat Saterdag sou plaasvind.
Sarie is na die ongeluk in ’n kritieke toestand per helikopter na die Milpark hospitaal in Johannesburg gevlieg, maar is vroeg die volgende oggend oorlede.
“Sy het gesterf op die dag wat Simoné sou trou,” sê Sarie se ouer broer, Adolf Willemse.
“My ma was baie opgewonde oor die troue. Ons almal was,” sê Simoné. “Dis hartverskeurend om te weet dat my ma nie by my troue gaan wees nie. My pa is ook nie meer by ons nie en dis al wat ek wou gehad het, om my ma daar te kon hê.” Die troue is onbepaald uitgestel.
Sy was baie lief vir kinders, en veral vir haar kleinkinders. “Sy het in die aande my twee kinders in die bed gesit en vir hulle Bybel gelees voor hulle gaan slaap het,” sê Simoné.
Adolf beskryf sy suster as ’n lieflike persoon wat altyd baie tyd gehad het vir die kinders – haar eie, sowel as die kinders by die skool. “Haar liefde vir kinders het tot op die laaste gewys, aangesien sy in die ongeluk net haar kleinkinders wou beskerm. Hulle is nog te klein om werklik te besef wat gebeur het, maar eendag sal hulle besef hul ouma het haar lewe gegee om hulle te beskerm,” sê hy.

Simoné beskryf haar ma as ’n baie kalm persoon wat nooit iemand anders sou oordeel nie. “Sy was ’n baie goeie ma en sy het altyd tyd vir ons gemaak, veral vir haar kleinkinders,” sê sy.
“Sy het ander altyd voor haarself geplaas,” sê haar jongste seun Byron, wat nog erg in skok is. “Sy was ’n wonderlike ma – die beste,” sê hy.

“Sy was ook ’n baie dinamiese persoon wat alles presies perfek gedoen het.”
“Daar is so baie wat ek oor my ma kan sê, ek weet nie waar om te begin nie,” sê Sarie se oudste seun, Lowry (27), wat nie saam in die motor was nie. “Ek gaan haar baie verlang.
“Daar is nou ’n leemte waar sy was, maar ek weet tog die Here is met ons en Hy sal ons hierdeur bring. So ons probeer maar positief bly, want daar waar sy nou is, is sy in goeie hande,” sê hy.

Sarie se departementshoof by die skool, Yvonne Palmer, sê Sarie was ’n baie minsame mens, altyd rustig en stil. “Sy was soos ’n Mona Lisa.
“Sy het ’n stil glimlag gehad en ’n mooi persoonlikheid. “Vir my was sy ’n moeder, ’n staatmaker, pligsgetrou. Ek hoop die voorbeeld wat sy aan haar drie kinders gestel het, sal by hulle bly.
“Soos ek sê, sy was ’n Mona Lisa. Daar is net nie ’n beter woord om haar te beskryf nie. Ek wens ek kon haar kwaliteite gehad het, want sy was vir my soos ’n engel. Die skool gaan haar verskriklik mis.”

’n Toewydingseremonie vir Sarie het Woensdag by die gesinshuis plaasgevind. Donderdag 14 Desember om 14:30 vind ’n gedenkdiens in die skoolsaal by Promosa Sekondêr plaas.
Saterdagoggend om 09:00 vind die begrafnisdiens plaas by Harwoodstraat 31 in Promosa, die kerkdiens om 10:00 by die VGK Kerk in Promosa, gevolg deur die teraardebestelling by die Potchefstroom begraafplaas.

Sarie se familie en vriende bedank die Promosa gemeenskap vir al hul ondersteuning en bystand.

Related Articles

Back to top button