NewsNews

‘Vreemde’ aanval op studente

Vier studente het Dinsdagmiddag (17 Oktober) ’n ietwat ‘vreemde’ aanval by ’n studentehuis in Eleazerstraat afgeweer.

Vier studente het Dinsdagmiddag (17 Oktober)  ’n ietwat ‘vreemde’ aanval by ’n studentehuis in Eleazerstraat afgeweer.

Louis, Hardus, Rodney en Hennie moes ’n aanvaller, wat gelyk het of hy dwelms gebruik het, keer nadat hy twee keer toegang tot die erf verkry het.
Volgens Rodney het hy en Hennie buite gesit en leer toe die man die eerste keer by die hek aankom.
“Hy het kom bedel. Ek het vir hom gesê dat ons hom ongelukkig nie kan help nie. Ek het aangeneem dat dit alles verby is,” vertel hy. Die man het op die sypaadjie voor die huis gaan sit. Volgens Hardus was hy op pad terug van die OK af.
“Ek het die hek oopgemaak om in te kom. Dit is toe dat die man agter my ingeloop het,” vertel hy. Die man het direk na Hennie en Rodney toe geloop, waarna hy hulle selfone gegryp het. Albei studente het die man vasgegryp om hulle selfone terug te kry.
“Ek het hom weggejaag en gedreig om die polisie te bel. Ek het toe die AfriForum buurtwag gebel wat op hul beurt weer vir Mooirivier Beskerming ontbied het,” vertel Hardus.
Intussen kon die studente daarin slaag om die man uit die erf te verwyder. Die man het glo buite die erf baie aggressief begin optree.
Hy het geskree terwyl hy die hek geruk en geskop het.
Uiteindelik het die man oor die muur geklim om weer in die erf te kom. Volgens Hardus het hy weer uitgekom nadat die man oor die muur geklim het, om hom weer weg te jaag.
“Hy het ons tuinstoele rondgegooi en die papiere wat buite was het die hele wêreld vol gelê. Hy het selfs een van die sakrekenaars in die tuin gegooi,” vertel Hardus. Nadat hy vir ‘n tweede keer probeer het om die man weg te jaag, het die man ’n koppie en ’n stoel na hom gegooi.
“Hy het baie vreemde goed gesê, soos dat hy ons gaan eet, dan byt hy na ons toe,” vertel Hardus. Al vier studente het probeer om die man onder bedwang te bring, waarna hy een van hulle met die vuis geslaan het. Volgens Louis het daar ander studente voor die huis verbygeloop wat die voorval met hulle selfone afgeneem het. “Ek kan nie glo dat hulle nie eers kom help het nie,” vertel hy. Die vier studente kon daarin slaag om die man vas te keer tot Mooirivier Beskerming en die polisie kort daarna op die toneel aangekom en die man onder bedwang gebring het.
Hy is in hegtenis geneem en ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, word ondersoek.
“Ek dink ons het dit goed hanteer, heeltyd koelkop gebly. Dit is iets waarvoor ek baie dankbaar is,” vertel Louis. Volgens Rodney is dit ’n moeilike situasie omdat hulle nie geweet het of hy ’n vuurwapen by hom het nie.

CSS, Crime ad

Related Articles

Back to top button