NewsNews

Student baklei terug teen selfoondief

’n Student se selfoon is Dinsdagmiddag omstreeks 14:00 byna deur ’n rower in Albert Luthulirylaan gesteel. Sy het egter die rower trotseer om sodoende haar selfoon te behou.

’n Student se selfoon is Dinsdagmiddag omstreeks 14:00 byna deur ’n rower in Albert Luthulirylaan gesteel. Sy het egter die rower trotseer om sodoende haar selfoon te behou.
Juanita Kleynhans (21), ’n onderwysstudent, was op pad om haar vriendin naby die OK in Albert Luthulirylaan te ontmoet, toe ’n man haar van voor genader het.

Juanita Kleynhans (21) het terugbaklei toe ‘n rower haar selfoon wou steel. Foto: Dustin Wetdewich

“Hy het baie saggies gesê ‘gee my jou foon.’ Ek kon nie mooi hoor nie, en sê toe ‘ekskuus’? Hy het dit herhaal en sy hand so gehou dat dit gelyk het of hy ’n wapen het,” vertel sy.
Kleynhans, wie se foon al twee keer dié maand gesteel is, het besluit om te baklei vir haar foon.
Die rower het haar aan die arm beetgekry en probeer om die selfoon uit haar hand te gryp.
“Ek wou weghardloop, maar hy het my vasgehou. Ek het hom geskop en geslaan,” vertel sy.
Sy kon daarin slaag om weg te kom, maar die rower het haar agternagesit. Hy het egter vinnig weer omgedraai en in die teenoorgestelde rigting gestap.
“Baie mense wat verby my gery het, het toeter gedruk, so ek dink hy het geskrik.
‘n Man het gestop om te hoor of alles in orde is. Hy het aangebied dat ek saam met hom kon ry. Gelukkig was my vriendin reeds by my,” vertel sy.
Kort nadat Kleynhans aangeval is, het sy ’n boodskap aan haar vriendinne gestuur om hulle te waarsku om versigtig te wees wanneer hulle op die brug loop.
Volgens Anna-Marie Jordaan (20), het hulle kort voordat hulle die boodskap ontvang het, gesien hoe twee rowers ’n bejaarde man aanval.
“Dit moes ’n paar minute na mekaar gebeur het,” vertel Jordaan.
Volgens haar het hulle hom teen ’n muur vasgedruk, waarna hulle hom deursoek het.
Hulle het gehardloop om die man by te staan, maar die rowers het gevlug.
Beide die bejaarde en die student is ongedeerd.
Volgens Jordaan, Kleynhans en een van hulle ander vriendinne, Alesia van Tonder (20), voel hule nie meer veilig nie, veral nie op die Bult nie.
Hulle sê hulle het in Potchefstroom kom studeer juis omdat hulle gedink het dat dit hier veiliger sou wees as in die stad.
“Ons is nou te bang om êrens heen te stap – klas toe, gym toe of om inkopies te gaan doen,” sê Kleynhans.
Volgens Jordaan is dit veral moeilik omdat sy nie ’n voertuig het nie. Dié studente voel dat die situasie veral op die Bult net erger word.
“Daar is al by ons huis ingebreek en twee keer by my voertuig,” sê Kleynhans.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button