NewsNews

Oud Volkie kry na 35 jaar weer bene

Hy was 18 jaar oud, geen ouers, vars uit Volkies, skaars oud genoeg om ’n bier te drink toe hy homself in ’n hinderlaag in die middel van Namibië bevind het.

Hy was 18 jaar oud, geen ouers, vars uit Volkies, skaars oud genoeg om ’n bier te drink toe hy homself in ’n hinderlaag in die middel van Namibië bevind het.

Anton van Rooyen of “Tone” soos almal hom noem, is op 10 Mei 1982 tydens operasie Yahoo naby Outjo in Namibië meer as 12 keer geskiet.
“Ek het voor geloop toe alles begin. My regterbeen het ek in die veld verloor. Die linker het ek so 7 maande later in die hospitaal verloor,” vertel hy.
Van Rooyen wat in 7 Suid Afrikaanse Infanterie (7 SAI) was het twee jaar by die 1 Militêre Hospitaal deurgebring en 56 operasies gehad.


“Ek het so ’n jaar later my eerste kunsbene ontvang, dit was te swaer ek kon nie daarmee loop nie. Een van die ouens saam met my kon ook nie met syne loop nie.
Wanneer ek dit afgehaal het het hare en vel saam afgekom.
Dit is nie soos vandag wat daar ’n spesiale kous is om die stompie te beskerm nie.
Ons moes dit so kaal aantrek, dit was makliker om sonder dit te wees,” vertel hy. Volgens hom het hy verskeie briewe aan die hospitaal geskryf om sy leêr in die hande te kry. Hy wou sien of dit nie moontlik sou wees om ander kunsbene te kry nie. “Hulle het net ’n brief teruggestuur wat sê dat dit nie moontlik is nie,” vertel hy. Met die uithouvermoë wat hy in die weermag geleer het, het hy aangehou tot hy onlangs ’n vriendin ontmoet het wie se kleindogter ’n dokter is. “Sy het vir my gesê sy sal kyk wat sy kan doen. Skaars twee dae later het hulle my geskakel en gesê ek moet kom. want volgens my leêr kan ek kunsbene kry,” vertel hy.
Volgens Van Rooyen is dit ’n bitter pil om te sluk dat dit 35 jaar geneem het voor iemand die fout agtergekom het, veral na die opofferinge wat hy vir die land gemaak het.
“Iemand het daardie tyd ’n fout gemaak waarvoor ek moes boet. Ek voel ingedoen, my vryheid en my menswees is van my weggevat.
Ons is net weggesmyt,” vertel hy vies. Van Rooyen wat as kind Wes-Transvaalkleure in landloop gekry het se droom was om Springbokkleure te verwerf. Hoewel die verlies van sy bene dié droom gekelder het, het hy steeds die lewe ten volle geniet.


“Al gaan mens deur hel, die lewe gaan aan.
Mens moet nooit opgee nie, iewers is daar hoop,” vertel hy.
Hy het Woensdag (30 Augustus) sy tweede been gaan pas. “Ek is baie opgewonde maar besef dat daar nog ’n lang pad van baie harde werk voorlê. Ek gaan basies van voor af moet leer loop.

Related Articles

Back to top button