SportSport

Potchefstroom Ysterman se kanniedood houding trek hom na nuwe hoogtes

As daar een blywende kenmerk van Dawie Janse van Rensburg is, is dit dat hy nie tou opgooi nie. Hy byt vas en druk deur die moeilike tye en dit is presies dié mentaliteit wat hierdie driekamp- en ysterman-atleet na die 2018 Wêreldkampioenskappe gevoer het. Die kampioenskappe vir die half-ysterman gaan in September in Suid-Afrika …

As daar een blywende kenmerk van Dawie Janse van Rensburg is, is dit dat hy nie tou opgooi nie. Hy byt vas en druk deur die moeilike tye en dit is presies dié mentaliteit wat hierdie driekamp- en ysterman-atleet na die 2018 Wêreldkampioenskappe gevoer het.

Die kampioenskappe vir die half-ysterman gaan in September in Suid-Afrika gehou word en Suid-Afrikaners het spesifieke plekke gekry waarvoor hulle kan kwalifiseer.

Janse Van Rensburg (40) moes toe in Durban sy kans aangryp om ‘n plek te kry.

“Ek is baie trots op my tweede- en derde plek in die 40-44 kategorie in die ysterman. Ek het in Durban alles gegee en ek is bly dat dinge goed afgeloop het om vir die half-ysterman wêreldkampioenskappe te kwalifiseer,” sê Van Rensburg, wat die wêreldkampioenskappe  toevallig op sy verjaarsdag gaan aanvat.

Janse van Rensburg se indrukwekkende CV sluit ‘n hele rits wedlope in wat hy al in indrukwekkende posisies  voltooi het: Top drie plekke in die Twee Oseane halfmarathon, top drie plekke in verskeie halfmarathonne waar hy in sy ouderdomsgroep keer op keer uitblink, sowel as medaljes in verskeie nasionale- en provinsiale twee- en driekamp-kompetisies.

Dawie Janse van Rensburg in aksie op die fiets tydens 'n driekamp.
Dawie Janse van Rensburg in aksie op die fiets tydens ‘n driekamp.

“Omdat ek so laat begin het sal ek nooit teen die topatlete kan presteer nie, maar ek meet myself altyd aan hulle standaarde. My hoofdoel is om by die wêreldkampioenskappe na die beste van my vermoë te presteer. Ek kyk nie na die ander atlete nie en fokus net op my eie strategie wanneer ek deelneem. My groot dryfveer is om myself konstant te verbeter,” sê hy.

Van Comrades na Ysterman:

Die saadjie vir Janse van Rensburg,  ‘n wiskunde lektor aan NWU-Pukke, se atletieksukses is in die 90’s geplant toe hy aan sy eerste Comrades Marathon deelgeneem het.

“Ek het begin hardloop toe ek studeer het en in 1995 het ek die Comrades Marathon gedoen,” sê hy, wat oorsee die meeste blootstelling aan atletiek en hardloop gekry het.

Hy kom oorspronklik van ‘n hardloopagtergrond en het danksy ‘n vriendin se voorstel aan sy eerste tweekamp (fietsry en hardloop) deelgeneem, juis omdat swem nie sy sterk punt was nie.

“Ek het dadelik daarvan gehou en dit was ‘n lekker uitdaging met die fietsry by. My hardloopfiksheid het my ook goed voorberei,” sê Janse van Rensburg, wat in 2009 sy eerste driekamp gehardloop het.

“Kyk ek het amper my eerste swem van 650 meter in die dam nie oorleef nie. Ek het darem klaargemaak en nie te sleg gedoen nie,” lag hy terwyl hy terugdink.

In 2012 het hy sy eerste volle ysterman gedoen en dink steeds dat dit sy uitdagendste wedloop tot op hede was.

“My grootste nagmerrie was die swem, met die toestande wat nog ontsettend rof ook was in Port Elizabeth deur reën en wind met die 3.8 kilometer swem.

“Met die fietsry moes ek letterlik aan my fiets klou vir die 180 kilometer. Ek het wel nog nooit opgegee nie, wat ek begin maak ek klaar en deur genade is ek toe oor die eindstreep,” vertel Janse van Rensburg, wat toe die afgelope paar jaar meer sukses in driekamp en halfmarathon-wedlope begin behaal het.

Dawie Janse van Rensburg streef altyd om homself te verbeter. Nou gaan hy SA by die 70.3 Ysterman Wêreldkampioenskappe verteenwoordig.
Dawie Janse van Rensburg streef altyd om homself te verbeter. Nou gaan hy SA by die 70.3 Ysterman Wêreldkampioenskappe verteenwoordig.

Volgens Janse van Rensburg was 2014 sy deurbraakjaar toe hy ‘n vyfde plek in die half-ysterman in die 35-39 ouderdomskategorie behaal het.

“Ek het toe besef dat ek my tye baie verbeter as ek aan my swemtegniek en uithouvermoë in die water werk, omdat swem my swakste dissipline van die drie is. Ek het toe vir Zoli de Kock gevra om my te help aangesien sy ‘n baie goeie swemmer en atleet is,” vertel hy.

Oefening is sy geheime wapen

“Sodra jy wil presteer moet jy besef dat dit nie in die eerste jaar gaan gebeur nie en jy ‘n fondasie moet lê om te verbeter.”

Volgens Janse van Rensburg oefen hy verskillende aspekte vir driekamp en ysterman om hom topfiks te hou.

“Maandag bestaan uit twee sessies van swem (uur) en fietsry (een en ‘n half tot twee ure).

Dinsdag bestaan uit gim-werk vir ‘n uur en ‘n hardloopsessie van so uur tot ‘n uur en ‘n half. Woensdag is dit swem vir ‘n uur en in die middag is dit 2-3 ure se fietsry. ‘n Donderdag bestaan uit gimwerk of ‘n kort hardloopsessie in die oggend met ‘n hardloopsessie in die middag vir ‘n uur. Op Vrydae sal ek swem vir ‘n uur en fietsry vir 2-3 ure.

“Op Saterdae sal ek hardloop vir ‘n uur en ‘n half tot twee ure. Ek rus op Sondae, maar die belangrikste is om genoeg ure van verskillende tipes oefeninge in te kry wat essensieel is om krag en uithouvermoë te verbeter.

Elke persoon pas maar sy skedule aan soos dit hom of haar pas,” vertel hy breedvoerig.

Van Rensburg is ook aan die hoof van die Tri-Squad driekampklub in Potchefstroom waar enige iemand welkom is om aan te sluit.

“Ons sluit nie net driekamp in nie en maak ook voorsiening vir diegene wat tweekamp wil doen. Daar is studente en werkende persone in die klub en daar is ‘n lekker kultuur by die klub waar daar kompetisie is, maar ook ‘n gesellige atmosfeer waar ons koffie gaan drink of braai en so aan.

Algeheel is Janse van Rensburg se goeie kondisionering en gene net ‘n deel van sy sukses. Sy wenresep?

“Aanhouer wen en ek vertrou op God om my deur die moeilike tye te dra.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button