NewsNews

R10 m telefoon-kontrak: Waarde vir geld?

Die munisipale bestuurder van die Potch-Tlokwe munisipaliteit is na ‘n ondersoek deur die Herald van plan om ‘n hoëvlak ondersoek te laat doen na die veelbesproke telefoonkontrak wat die munisipaliteit oor ‘n tydperk van drie jaar sowat R10 miljoen uit die sak sal jaag.

Die munisipale bestuurder van die Potch-Tlokwe munisipaliteit is na ‘n ondersoek deur die Herald van plan om ‘n hoëvlak ondersoek te laat doen na die veelbesproke telefoonkontrak wat die munisipaliteit oor ‘n tydperk van drie jaar sowat R10 miljoen uit die sak sal jaag.
Nadat die Herald vroeër vanjaar daaroor berig het, het die munisipale bestuurder, dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi die versekering gegee dat daar niks met die kontrak skort nie. Die Herald het egter die afgelope twee maande self ‘n ondersoek geloods deur pryse van leweransiers te bekom wat soortgelyke telefoonstelsels kan verskaf.
Die Herald het ‘n kopie van die kontrak en die faktuur van die kontrakteur aan wie die kontrak toegeken is, onder oë gekry waarna die spesifikasies gebruik is om self pryse op die internet te vind. Dié ondersoek het gedui op ‘n bedrag van ongeveer R3.1 miljoen, wat 40% wins en 50 ure se arbeid teen R350 per uur, ingesluit het.
Die faktuur met spesifikasies is ook na verskeie maatskappye so ver as Kaapstad gestuur vir kwotasies. Terugvoer is van vier maatskappye ontvang. Al dié maatskappye doen besigheid met ander munisipaliteite en wou om verstaanbare redes nie hê dat hulle name genoem word nie.
Twee van die maatskappye het aangedui dat hulle die werk sou kon doen vir minder as R1 miljoen. ‘n Derde maatskappy het aangedui dat hulle die kontrak vir ongeveer R2 miljoen sou kon doen. Die vierde maatskappy het ‘n kwotasie gestuur, wat ook op die faktuur van die kontrakteur aan wie die kontrak toegeken is gebaseer is, wat daarop dui dat hulle die werk sou kon doen vir ongeveer R3.2 miljoen. Laasgenoemde maatskappy het gesê “dit is regtig oordrewe of buitensporig van ons kant af, ons sou baie goeie geld hierop maak.”
Volgens dr. Blaai-Mokgethi is die kontrak, wat in November verlede jaar gesluit is, aan dieselfde kontrakteur toegeken wat reeds in Ventersdorp, wat onlangs met die Tlokwe munisipaliteit saamgesmelt het, die stelsel hanteer. Dit is volgens haar op regsadvies gedoen.


Die munisipaliteit het in ses maande reeds ongeveer R2.2 miljoen aan die Potchefstroom kontrak spandeer. Meer as wat meeste maatskappye vir die totale kontrak in die Herald-ondersoek geprys het.
In ‘n vorige gesprek tydens die Herald-ondersoek het dr. Blaai Mokgethi gesê dat sy nie ‘n tegniese persoon is nie en daarom op advies van kenners binne die munisipaliteit die kontrak geteken het.
“Ons sal ondersoek instel en glo my koppe sal rol as daar enige onwettighede plaasgevind het,” het sy gesê.
Die Herald het vir haar die kwotasies wat bekom is gestuur.In ‘n opvolggesprek Dinsdagaand met dr. Blaai-Mokgethi het sy weer gesê dat sy die kwessie gaan laat ondersoek en selfs die moontlikheid genoem om die Valke daarby te betrek.
By navraag oor waar die geld vandaan kom vir die telefoonstelsel, aangesien daar mense in Ventersdorp en Potchefstroom is wat steeds nie oor basiese dienste beskik nie, het sy geantwoord dat ‘n oorgangstoelae van R13 miljoen van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) verkry is vir alle uitgawes wat met die samesmelting te doen het. “Die vorige kontrak vir die telefoonstelsel is ook beëindig, so daar is geld wat ons kan gebruik,” het sy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button