NewsNews

Ma van 29 seuns het onvoorwaardelik lief

Moedersdag is ’n dag waarop die moeders van die aarde geëer en waardeer behoort te word. Wie dan nou beter om te eer op hierdie dag as ’n ma van 29 tienerseuns?

Moedersdag is ’n dag waarop die moeders van die aarde geëer en waardeer behoort te word. Wie dan nou beter om te eer op hierdie dag as ’n ma van 29 tienerseuns?

Suzette Venter is al vir sowat vier jaar die kinderversorger by Samuel huis by Abraham Kriel kinderhuis, waar sy as die ma optree vir sowat 29 seuns tussen die ouderdom van 14 en 18 jaar.
Suzette het nog altyd ’n passie gehad om met kinders te werk en was haar lewe lank ’n onderwyseres, tot sy besluit het om die belangrikste posisie in enige kind se lewe te vul, en dit is om ’n ma te word van die seuns by Abraham Kriel Kinderhuis. Vir haar is dit ’n eer om hulle te kan versorg en sy sê dit vul haar elke dag met vreugde.

“Wanneer daar ’n nuwe seun in die huis in kom, is hy gewoonlik geneig om teruggetrokke te wees en op sy eie te wil wees, en dan om daardie selfde seun later te sien met jou kom gesels as of jy sy regte ma is, is wat dit vir my die moeite werd maak,” sê sy.

Dit is vir haar wonderlik om te ervaar hoe hierdie seuns hulle vertroue in haar sit en haar behandel soos hul eie ma. As kinderversorger is haar rol om elke seun in die huis onvoorwaardelik lief te hê. “Hulle moet weet, maak nie saak wat nie, dat hulle altyd na my toe kan kom en met my kan kom praat as daar iets fout is.”

Suzette verwys na haar styl van ma-wees as oop-deur beleid, aangesien sy van die seuns verwag om nie te skroom om na haar toe te kom nie.

“Of dit nou elfuur of twaalfuur in die nag is, moenie wag en opkrop nie, kom sê my. Kom sit en gesels met my.”

Vir haar is dit baie belangrik om kwaliteit tyd saam met elke kind te spandeer en baie belangstelling in elke kind se lewe te wys. “Dit is vir my baie lekker om tyd saam met die seuns te spandeer en elkeen is anders, so die manier hoe ek hulle benader verskil.” Sy sê dat in die aand om die etenstafel is wanneer die huis die meeste soos gesin saam is. “Hulle sit dan almal en gesels, vertel stories en skinder.

Ons is net soos gewone huishoudings, behalwe dat ons meer kinders in ons gesin het.” Alhoewel Suzette haar eie twee dogters het, het sy plek gemaak vir elkeen van hierdie seuns, en het sy soveel van ma vir hulle geword as wat sy vir haar eie kinders is.

“Hulle is soos my eie kinders. Hulle hartseer is my hartseer, hulle prestasies is myne.”

Sy ondersteun hulle in alles wat hulle aanpak soos net regte ma kan.

 

Related Articles

Back to top button