Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het op Saterdag 6 Mei hul jaarlikse opedag aangebied, waar voornemende studente van ver gekom het om meer inligting te kry oor al die verskillende rigtings waarin hulle volgende jaar kan kom studeer.
Kampusrektor prof. Fika Jansen van Rensburg het die oggend afgeskop deur elke leerder en ouer vriendelik te verwelkom.
Hy het gespog met Potchefstroom se roemryke geskiedenis van die afgelope 148 jaar, die taalbeleid en die feit dat die NWU kampusse, volgens hom, die mooiste en mees kompakte kampusse in Suid-Afrika is.
Prof. Fika het almal verseker dat studente aan die NWU van die gelukkigste is, en dat hierdie elkeen se huis weg van die huis af word.
“Ons het nie studentelewe uitgevind nie, maar dit net vervolmaak,” het hy in sy verwelkomingstoespraak gesê.
Voornemende studente kon die verskillende fakulteite, koshuise en vele meer op die dag besoek. Daar was stalletjies vir al die verskillende koshuise en dorpskoshuise, al sewe fakulteite, sowel as die ASV’s, sport- en kultuur-unies – daar was werklik iets vir almal.
Die NWU se Mafikengkampus se opedag vind plaas op 19 Mei.
You can read the full story on our App. Download it here.