NewsNews

’n Hemelse troue vir rolbalspeler

“Sy balle sal rol en sy gees sal voortleef in rolbal..."

“Ons trou in die Hemel vandag.”

Dit is wat oor en oor in Yolandé Louw se gedagtes afgespeel het op die dag van haar verloofde se roudiens. Dit sou hul troudag wees.

Pikkie Abbott, ’n staatmaker rolbalspeler en lid van die Potchefstroom Rolbalklub, het vyf dae voor sy troue in ’n motorongeluk gesterf.

“Ek wou steeds sy spesiale dag vir hom gee,” sê Yolandé, wat besluit het om Pikkie se roudiens op 15 April te laat plaasvind – die dag toe hy vir die eerste keer in die huwelik sou tree. Yolandé en Pikkie sou kaalvoet op die rolbalbaan trou, maar in plaas daarvan moes Yolandé die liefde van haar lewe op dié dag begrawe.

Die troukoek wat Pikkie vir hul troue laat bak het. Foto: Verskaf
Die troukoek wat Pikkie vir hul troue laat bak het. Foto: Verskaf

Yolandé beskryf Pikkie as ’n spontane mens. Iemand wat altyd gelag het en positief was oor alles.
“Hy wou altyd gehad het dat almal gelukkig moes wees. So ek het probeer om te doen wat hy sou wou gehad het. Dit is om sterk te wees vir myself sowel as vir sy familie.”

Yolandé sê dat Pikkie so opgewonde was om uiteindelik te trou dat hy in die weke voor die troue sy liefde vir rolbal eenkant geskuif het. Hy het net belang gestel om te help reël aan hul spesiale dag.

“Hy het drie keer sy troupak aangepas om vir my te wys hoe hy lyk. Hy was so opgewonde, dis al waaroor hy kon praat.”

Yolandé en Pikkie het baie goeie tye gedeel.
Yolandé en Pikkie het baie goeie tye gedeel.

Die blomme vir die troue is vir Pikkie se roudiens gebruik en selfs die troukoek, wat Pikkie self bestel het, was daar op die tafel tussen sy rolbalballe uitgestal. Voor sy dood het Pikkie vir Yolandé begin leer om rolbal te speel.

“Dit was sy passie. Hy speel rolbal al vandat hy 13 is en dit was sy droom vir ons twee om eendag saam te kan speel.” Yolandé het besluit om met Pikkie se balle aan te hou speel.

“Sy balle sal rol en sy gees sal voortleef in rolbal. Hy was my legende en ek gaan aanhou speel, omdat ek weet dit is wat hy sou wou hê.”

Hoewel sy weet dat Pikkie nou op ’n beter plek is, raak dit nie makliker nie.
Die verlange word al meer elke dag wat hy weg is.

Pikkie Abbott was 'n bekende rolbalspeler wat deur baie gemis gaan word. Foto: Verskaf
Pikkie Abbott was ‘n bekende rolbalspeler wat deur baie gemis gaan word. Foto: Verskaf

“Soms voel dit vir my asof hy net op ’n rolbalkamp is en nou-nou terug gaan kom, maar dan skop die realiteit weer in en besef ek dat hy nie gaan terugkom nie.”
Pikkie was 34 toe hy op 10 April oorlede is.

Hy laat ook sy ma, twee broers en vyf susters agter.

“Hy was fantasties en enige iemand wat hom ken sal dieselfde van hom sê. Dis so onwerklik om van hom te praat asof hy ‘was’, want vir my sal hy altyd hier wees,” sê Yolandé.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button