SportSport

Geen hindernis te groot vir Volkies se SA kampioene

Daar is iets simbolies aan Hoër Volkskool Potchefstroom se nuwe dubbele SA Atletiekkampioene, Robert de Villiers (o.17) en Cara du Preez (o.17) wat albei in die 2000 meter hindernis-item die goud huis toe gebring het. Hierdie twee het hulle talent vir die land ten toon gestel tydens die gesogte SA Hoërskole Atletiekkampioenskappe wat vanaf 29 …

Daar is iets simbolies aan Hoër Volkskool Potchefstroom se nuwe dubbele SA Atletiekkampioene, Robert de Villiers (o.17) en Cara du Preez (o.17) wat albei in die 2000 meter hindernis-item die goud huis toe gebring het. Hierdie twee het hulle talent vir die land ten toon gestel tydens die gesogte SA Hoërskole Atletiekkampioenskappe wat vanaf 29 Maart tot 1 April in Durban plaasgevind het.

In hierdie wedloop het hulle juis bewys dat geen hindernis te groot is nie en met elke stap het hulle nader aan hulle droom en doelwit gekom. Vir hulle afrigter, Nollie Meintjies, ‘n kranige middel- en langafstandatleet in sy jeug, was dit die grootste voorreg om te sien hoe sy atlete se harde werk en oefening op die grootste atletiekverhoog, vrug dra.

Cara du Preez op pad na haar eerste plek in die dogters o.17 2000 meter hindernis-item by die SA's wat verlede naweek in Durban gehou is.
Cara du Preez op pad na haar eerste plek in die dogters o.17 2000 meter hindernis-item by die SA’s wat verlede naweek in Durban gehou is.

Pure blydskap en trots is maar net ‘n paar maniere om sy emosies op daardie tydstip in Durban verlede naweek te verwoord.
Altwee hierdie atlete het ongelooflike talent, dissipline en passie vir atletiek. Die toewyding wat hulle gee is fantasties. Vir my is die volume werk wat hulle insit baie belangrik om konstant fiks te bly. Ons volgende mikpunt is die ASA Junior- en Jeugkampioenskappe in Kaapstad hierdie naweek.”

Die plan is om kwalifiserende tye te behaal sodat albei SA by die Wêreld Jeugkampioenskappe kan verteenwoordig,” verduidelik Nollie.
Robert het sy gouemedalje in 5:49.68 behaal, terwyl Cara haar goue een in 6:43.90 gekry het, wat ook ‘n nuwe SA rekord en persoonlike beste vir haar in dié item is. Robert het ook amper twee gouemedaljes losgeslaan, maar moes met silwer in die 3000 meter tevrede wees in ‘n tyd van 8:33.83.

Dubbele vreugde! Volkies se twee nasionale atletiekkampioene, Cara du Preez en Robert de Villiers wat albei in die o.17 2000 meter hindernis-item goue medaljes verower het.
Dubbele vreugde! Volkies se twee nasionale atletiekkampioene, Cara du Preez en Robert de Villiers wat albei in die o.17 2000 meter hindernis-item goue medaljes verower het. Foto: Wouter Pienaar

“Ek het nie eintlik die beste wedloop gehad nie en amper in die eerste 100 meter geval. Dit is net genade van bo dat ek op my voete kon bly. Die wind was ook sterk, wat nie ideaal was nie. Toe ek wel eers begin hardloop het, het ek goed gevoel en toe voor gegaan na so 800 meter. Die wen het eers ingesink toe ek saam met al die ander atlete gesit het wat ook medaljes ontvang het,” vertel Robert.

Sy volgende groot doelwit is om vir die Wêreld Jeugkampioenskappe te kwalifiseer en hy glo dat as hy sy talente gebruik, dit beslis ‘n werklikheid kan word.
“Die belangrikste is om die beste te kan wees wat ek kan en die talent wat God my gegee het tot die beste van my vermoë kan gebruik.
Cara het ook ‘n uitstekende wedloop in ‘n baie kompeterende veld gehad waar die voorste drie atlete konstant bymekaar geboer het.

“Een meisie het in die laaste rondte geval, toe is daar net ek en die ander teenstander oor. Ek het toe met so 150 meter om te gaan by die laaste watergat eerste plek gevat. Toe ek oor die laaste balk hardloop, toe weet ek hierdie is my wen. Dit was nog altyd my droom om die SA’s te wen. Hierdie jaar het ek vir die oomblik gelewe en vir myself gesê dat ek eerste sal kom.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button