NewsNews

35 kinders in onpadwaardige taxi

’n Taxibestuurder wat 35 skoolkinders in ‘n onpadwaardige taxi vervoer het, is Vrydagoggend deur verkeersbeamptes voorgekeer, waarna daar op die taxi beslag gelê is.

’n Taxibestuurder wat 35 skoolkinders in ‘n onpadwaardige taxi vervoer het, is Vrydagoggend deur verkeersbeamptes voorgekeer, waarna daar op die taxi beslag gelê is.
Die taxi is kort voor agt die oggend voorgekeer, waarna die verkeersbeamptes gesien het dat die voertuig se lisensie reeds ‘n jaar gelede verval het. Daar was 35 kinders in die taxi, wat glo net gelisensieer is om sowat 10 mense te kan vervoer.
Daar is beslag gelê op die voertuig en ’n boete van R5 000 is aan die bestuurder uitgereik. Die verkeersdepartement het vir die kinders alternatiewe vervoer gereël omdat hulle nog by die skool moes kom. Die burgemeester, Kgotso Khumalo, het die verkeersbeamptes geloof vir hul optrede. “Ek doen ‘n beroep op alle motoriste en in besonder taxibestuurders om padreëls na te kom en nie taxi’s te oorlaai nie.
“Dit moet baie duidelik aan ons taxibestuurders gestel word dat ons kinders die toekoms is. Een dood is een te veel. Die seer en trauma om ‘n kind te verloor, is iets wat ek nie wil hê enige ouer moet ervaar nie,” het Khumalo gesê.
Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, het die gebeure bevestig en bygevoeg dat die taxi in die geskut sal bly totdat die boete betaal is en die lisensie hernu word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button