SportSport

Pukke wil weer op wenpad kom teen Ikeys

Die Danie Craven Stadion in Stellenbosch was voorheen ‘n plek van heimwee en heildronk vir NWU-Pukke se Varsitybekerspan, maar het verlede Maandag  in 80 minute ‘n plek van verlies en verdriet geword. Verlede jaar het Pukke met 7-6 die Varsitybeker op dié veld gewen, maar hierdie week het Maties die borde verhang en Pukke met …

Die Danie Craven Stadion in Stellenbosch was voorheen ‘n plek van heimwee en heildronk vir NWU-Pukke se Varsitybekerspan, maar het verlede Maandag  in 80 minute ‘n plek van verlies en verdriet geword.

Verlede jaar het Pukke met 7-6 die Varsitybeker op dié veld gewen, maar hierdie week het Maties die borde verhang en Pukke met 31-9 laat les opsê.

Maties het verdien om Pukke se onoorwonne rekord te breek na hulle ‘n amper foutlose wedstryd gespeel het. Pukke kon net nie dieselfde impak as gewoonlik maak nie, en moes die hele wedstryd terugveg nadat hulle al vroeg ‘n drie teen hulle naam gehad het.

Edwill van der Merwe, Kobus van Dyk en Mitchell Carstens het vir Maties gaan druk.

Pukke se linkervleuel Jimmy Mpailane het ‘n onderskepdrie gaan druk, maar dit was die laaste stukkie geluk vir Pukke wat geen punte in die tweede helfte aangeteken het nie.

“Maties het goed gespeel omdat hulle ons van die begin af onder druk geplaas het.

Om na 20 minute reeds 15 punte agter te wees en dan moet terugkom, is glad nie maklik teen Maties, veral op ‘n volgepakte Danie Craven Stadion nie,” het NWU Pukke kaptein, Jeandré Rudolph gebieg.

Verdediging was ‘n kommerpunt vir baie rugbykenners na hierdie wedstryd waar Maties soms soos ‘n warm mes deur botter gesny het.

Tog glo Rudolph dat hulle gebrek aan kohesie in die aanval sy span duur te staan gekom het.

“Ons sal weer na die videos van die wedstryd kyk om te sien wat fout gegaan het. Vir seker het ons aanval ons in die steek gelaat. Ons het te veel foute begaan en nie uitgevoer wat ons moes nie.”

Pukke speel nou komende Maandag teen UCT-Ikeys op die Fanie du Toit Sportgronde in hulle vierde wedstryd van die toernooi en sal graag weer op die wenpad wil kom.

Die Pukke ondersteuners sal niks minder wil hê as ‘n oortuigende wen teen die span van die Kaap nie.

Ikeys het Maandag teen Shimlas in Bloemfontein met 22-7 gewen en sal groot opspraak veroorsaak as hul nog ‘n oorwinning weg van hul tuisveld kan kry.

Die Pukke en UCT-Ikeys-wedstryd skop om 18:30 op Maandag, 20 Februarie af.

Foto's: SASPA
Foto’s: SASPA

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button