SportSport

Ystervrou roes nie in die water nie

Water vloei nog altyd sterk in Zoli de Kock se bloedstroom. Dit is die lewensbloed wat haar hart laat pomp en haar passie vir swem en algehele fiksheid elke dag soos ‘n lopende waterstroom laat vloei. Sy is nie verniet ‘n Ironman 70.3 wenner in haar ouderdomsgroep (30-40) vanjaar nie en haar deelname aan die …

Water vloei nog altyd sterk in Zoli de Kock se bloedstroom. Dit is die lewensbloed wat haar hart laat pomp en haar passie vir swem en algehele fiksheid elke dag soos ‘n lopende waterstroom laat vloei. Sy is nie verniet ‘n Ironman 70.3 wenner in haar ouderdomsgroep (30-40) vanjaar nie en haar deelname aan die wêreldkampioenskappe in hierdie uitmergelende driekampresies getuig van haar deurdsettingsvermoë en vaardigheid. Tog sal die water altyd haar eerste habitat bly. Die Genesis van haar swemloopbaan het al vroeg begin met haar ouers wat ‘n groot rol in haar ontwikkeling gespeel het.

“Ek het al begin swem voor ek geloop het. My pa was ’n goeie swemmer en hy het aangedring dat ek leer swem. Ek was al van jongs af by Carine Cronje by Potchefstroom Swemklub waar ek toe later provinsiaal geswem het tot in matriek,” sê Zoli wat Potchefstroom Central en Potchefstroom Gimnasium haar alma maters noem.

Na skool het Zoli haar fokus op swemafrigting geplaas en as student begin afrig. Vir ‘n nuwe uitdaging het sy oorsee skoolgehou en toe by die grootste swemskool in Brittanje afgerig.

Zoli de Kock saam met Cheri Oosthuizen tydens die Iromnam 70.3
Zoli de Kock saam met Cheri Oosthuizen tydens die Ironmam 70.3.S

“Ek het daar agtergekom dat ek daarvan hou om met kinders te werk en hulle gelukkig in ‘n swembad te sien. Ek is mal daaroor,” vertel Zoli wat onlangs haar eie swemskool, Aquazone, begin het.

“Ek het gesien hoe werk dit in Engeland en ek wou graag dieselfde vir Potchefstroom doen met goeie binnenshuise fasiliteite wat heeljaar gebruik kan word,” vertel Zoli wat al 11 jaar afrigtingservaring agter die blad het.

“My man se ouma het ‘n gastehuis in Jeffreysbaai en toe ons land in Port Elizabeth om vir haar te gaan kuier, sien ek net hordes mense wat fietsry en hardloop. Ek het daar en dan besluit dat ek ook eendag aan die Ironman wil deelneem.”

Met Zoli se terugkeer in Potch het sy  Nic Rautenbach, ‘n Potchefstromer wat bekend vir sy Ironman wedrenne is, gevra om haar touwys te maak. Sedertien het sy ‘n halwe een en twee volle Ironman wedrenne voltooi. Die volle Ironman is 3.9 myl swem, 180 kilometer op ‘n fiets en 42 kilometer marathon. Op hierdie stadium is die halwe Ironman die meer populêre keuse.

“Dit is steeds ‘n groot prestasie om ‘n halwe een ook klaar te maak en baie werk gaan daarin. Mense het minder tyd om vir ‘n lang resies te oefen so die halwe Ironman maak sin. Ek geniet dit net meer,” noem Zoli. Natuurlik gaan daar baie voorbereiding in om so ‘n uitmergelende resies te voltooi en volgens Zoli is dit belangriker om langer en korter sesies op ‘n weeklikse basis aan te pak.

“Jy het korter sessies in die week en dan op ‘n naweek moet jy die lang sessies insit. Minimum ‘n uur ‘n dag in die week,” noem sy.

Haar eerste Ironman bly steeds ‘n ongelooflike ervaring wat sy nooit sal vergeet nie.

“Daar is net daardie tasbare energie voor die kanon geskiet word om die begin van die wedren aan te kondig. Jy ruik net deep heat voor jy in die water gaan,” lag Zoli.

“Die swem was vir my die lekkerste. Ek het die fietsry ook geniet, maar die draf aan die einde was die moeilikste. Jy is dan so moeg na 11 ure se resies, die enigste ding wat jou motiveer is om daardie rooi tapyt te sien en oor die eindstreep te kom. Die skare se entoesiasme dryf my ook al die pad. Dit is ‘n ongelooflike gevoel van oorwinning,” verduidelik sy. Volgens Zoli het sy glad nie verwag om vanjaar as wenner van die 70.3 Ironman oor die eindstreep in Oos-Londen te gaan nie.

“Dit is tot dusver my grootste prestasie. Ek het nie noodwendig ingegaan om te wen nie, aangesien daar baie professionele atlete was. Ek het gegaan om my beste te gee en dit te geniet,” vertel Zoli wat deel van ‘n fantastiese oefengroep in Potch is.

“Ek glo dissipline en deursettingsvermoë is baie belangrik in enige sport, veral in swem. Dit is regtig ure en ure se harde werk,” vertel Zoli wat graag in die volgende vyf jaar aan nog ‘n wêreldkampioenskap wil deelneem en ‘n top 10 plek wil behaal.

“My doel is om ‘n lewenslange atleet te wees. Die prestasies is ‘n bonus, maar om mense te leer ken wat dieselfde passies deel en daardie kamaraderie te hê is ongelooflik en baie kosbaar.”

Dit of Dat

Tee of koffie? Koffie

Bosveld of See? See

Somer of Winter? Somer

Steak of Tjops? Steak

Fliek of TV reekse by die huis? Fliek

Plakkies of tekkies? Plakkies

Swem of draf? Swem

Popmusiek of oldies? Oldies soos Annie Lennox.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button