SportSport

Karatepaar deel hul liefde vir die sport

Die karatepaar Stephan en Zilla Steyn het 21 jaar gelede, toe albei ses jaar oud was, karate begin beoefen. Stephan het die sport in Gauteng betree, terwyl Zilla in Natal meer daaroor uitgevind het. Hulle het albei al drie swart belde verwerf en soos die noodlot dit wou hê, het hierdie twee se liefde vir …

Die karatepaar Stephan en Zilla Steyn het 21 jaar gelede, toe albei ses jaar oud was, karate begin beoefen. Stephan het die sport in Gauteng betree, terwyl Zilla in Natal meer daaroor uitgevind het.

Hulle het albei al drie swart belde verwerf en soos die noodlot dit wou hê, het hierdie twee se liefde vir karate hulle as eerstejaars by NWU Pukke in ’n karateklas bymekaargebring.

Vandag is hulle getroud en besit hulle eie Dojo (karateskool) in Potchefstroom, waar hulle aspirant leerlinge afrig en hul meer oor hierdie kunsvorm leer. Hulle passie vir karate was ook deel van hul troudag, toe hulle die troukoek in hul karate uitrustings gesny het. “Dit was beslis ’n spesiale oomblik om te deel.

Ons twee kom al ’n lang pad en dit is vir my wonderlik om my passie met iemand te deel wat verstaan,” vertel Stephan. Dit is juis hierdie passie wat sterk deurkom by hierdie paartjie wat hulle klasse met ywer en doelgerigtheid in Engels en Japannees aanbied.

“Dit is belangriker dat die kinders die regte konsepte en bewegings in Japannees aanleer. Hulle moet ons as Sensei aanspreek, wat meester beteken,” verduidelik Zilla. Stephan het vir sewe jaar en Zilla vir vyf jaar vir die NWU karatespan deelgeneem, met Sensei Johan van Tonder wat hulle albei afgerig het. Duidelik het dit vrugte afgewerp met die dat hulle nou al self afrig.

Karate bestaan hoofsaaklik uit drie primêre afdelings naamlik, Kihon, Kata en Kumite. Elke afdeling is net so belangrik soos die ander een en moet goed bemeester word voordat daar van die een na die ander beweeg kan word. “Kihon is die basiese beweging van karate wat beoefen word en is slegs gebruik in opleiding en gradering. Kata is die beoefening van Kihon in ‘n gesimuleerde vegpatroon. Dit is byna dieselfde as die stryd teen ‘n denkbeeldige opponent met baie verskillende variasies.

“Kumite is waar ‘n opponent fisies geveg word in ‘n kompetisie,“ vertel Stephan. Volgens die karatepaar is die grootste wanpersepsie dat karate slegs ’n semi-kontaksport is en dat dit nie handig te pas kom in die werklike lewe nie. Karate gaan oor menswees en totale selfbeheersing wat ’n baie goeie konsep is.

Karate is fundamenteel gebaseer op vyf beginsels: karakter, moeite, etiket, selfbeheersing en kalmheid. Daar is wel positiewe en negatiewe aspekte om as getroude paar in dieselfde rigting saam betrokke te wees. “Dit is vir ons eerstens baie meer voordelig omdat ons mekaar uithelp en ervaring het. As die een besig is met ’n ouer, kan die ander een aangaan met die klas.

Soms stem ek wel nie saam hoe Stephan iets doen terwyl hy afrig en dan bots ons sommer, maar dis niks ernstig nie,” vertel sy terwyl Stephen met ‘n knik saamstem. Beide Stephan en Zilla is gesoute reisigers wat al aan verskeie oorsese toernooie en kompetisies deelgeneem het.

Stephan het ook al sy Protea kleure in die sport verwerf en is as student een van die bestes ter wêreld beskou. Albei mik nou volgende jaar vir hulle vierde swart belt.“

Een van die grootste verskille tussen ons land en oorsese karate is die professionaliteit wat daarmee gepaard gaan. Daar stoot die staat baie geld in die sport terwyl hier geen befondsing is nie.

Alles word uit ons eie sakke betaal en ek dink dit maak dit moeilik om oorsee goed te kompeteer,” vertel Zilla. “Karate is ’n kunsvorm en deel van ons lewens. Dit vat baie jare se oefening en motivering en mens kan nooit volleerd wees nie.

Daar is altyd spasie vir verbetering,” vertel die Sensei’s voordat hulle hul studente deur nog ’n rondte Kata neem. As jy meer omtrent die sportsoort wil uitvind of deur hulle afgerig wil word, kan Stephan by 072 283 9967 of by Potchsamurai@gmail.com gekontak word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button