LetterOpinions

Wessels moet weer draai kom maak

Onluste en geweld by universiteite het nou so deel van ons land geword soos korrupsie, droogte en ‘n president wat in die parlement sit en snork.

Izak Smalman skryf:
Onluste en geweld by universiteite het nou so deel van ons land geword soos korrupsie, droogte en ‘n president wat in die parlement sit en snork. Ek het nie meer woorde om my afkeer teenoor hierdie barbarisme uit te spreek nie en boonop sal ‘n gesinskoerant dit nie publiseer nie. Ek sien ook nie kans om weens haatspraak tereg te staan nie, dog ek maak my ook nie skuldig aan politieke korrektheid nie. Daarmee verwys ek na diegene wat wedywer om die guns van geweldenaars op die kampusse te probeer wen. Hulle probeer tog so hard om simpatie en begrip te betoon aan studente wat niks ontsien om hulle doel te bereik nie. Diegene wat die geweld op kampusse goedpraat, tree net so laakbaar op soos die misdadigers.
Die Potchefstroom kampus van die Noordwes-Universiteit is egter vir elke regdenkende persoon ‘n vars bries uit die Noorde. Terwyl ander kampusse in die land brand, gaan die studente op die PUK rustig voort met hulle eksamens. Hulle lyk eintlik lus vir eksamen skryf. Ek is dankbaar teenoor die studente, asook die Potch kampus se bestuur, akademiese personeel en die veiligheidspersoneel.
Ek het al dikwels kritiek teenoor die bestuur uitgespreek (die beste skipper staan mos op die kaai en wag dat die skip die verkeerde koers inslaan) maar ek haal my hoed af vir die wyse waarop die orde op die Potch kampus gehandhaaf word.
Ek glo nie aan wonderwerke nie, dog hierdie keer maak slegs een swaeltjie wel ‘n somer. Jammer dat die ander twee kampusse van Noordwes nie die PUK se voorbeeld kan volg nie. Daarom sê ek maar geluk aan die middel kampus! Ek hoop nie ek sal later my woorde en ekstase moet sluk nie.
Dit sal goed wees as die agbare dr. Leon Wessels van menseregte faam weer ‘n draai by die Potch kampus kan maak om hom te vergewis van wat aan die gebeur is. Moontlik kan hy hierdie keer bietjie langer vertoef as die paar uur wat dit hom destyds geneem het om te beslis dat studente hulle aan die Hitler saluut skuldig gemaak het. Die agbare heer het toe sommer ook in die verbygaan bevind dat Afrikaans nou nie juis ‘n taal is waaroor studente huis toe behoort te skryf nie.

Related Articles

Back to top button