SportSport

Krieket loop sterk in die Malan-broers se bloedlyn

Die afgelope jaar is daar ‘n opwinding in die lug wanneer die Noordwes Dragons op die veld stap om te kolf. In dieselfde asem is daar ook ‘n effense senuweeagtigheid vir die opposisie boulers wat weet dat hulle nou teen die groot Kookaburra-kolf van Janneman Malan moet kompeteer. Dit is dieselfde Janneman wat onlangs ’n …

Die afgelope jaar is daar ‘n opwinding in die lug wanneer die Noordwes Dragons op die veld stap om te kolf. In dieselfde asem is daar ook ‘n effense senuweeagtigheid vir die opposisie boulers wat weet dat hulle nou teen die groot Kookaburra-kolf van Janneman Malan moet kompeteer.

Dit is dieselfde Janneman wat onlangs ’n nuwe rekord van 170* in ‘n eendagwedstryd vir Noordwes teen KwaZulu-Natal op Senwespark aangeteken het en drie vyftigtalle in die afgelope Afrika T20-beker geslaan het. Verder spog hy met ‘n lopiegemiddeld van 74.83 vir die Dragons in eendagkrieket.

“Dit was een van daardie dae wat elke hou net mooi uitgekom het en die middel van die kolf getref het. Al die harde werk is nou besig om my in die middel te help,” vertel Janneman van sy rekordbeurt teen KZN.

Janneman se filosofie is eenvoudig met ‘n kolf in sy hand – hy wil net soveel lopies as moontlik maak. “Ek probeer soveel lopies as moontlik kry met ‘n groot verskeidenheid houe sonder om te veel risikos te vat en my paaltjie weg te gee,” sê Janneman wat dit geniet om met sy dryfhou die bal na die wegkantgrens te stuur.

Hierdie lopievraat se lopietog het wel van ‘n jong ouderdom af begin waar hy en sy twee krieketmal broers (Pieter en André) in Nelspruit nie genoeg van die sport in hulle agterplaas kon kry nie.

“Vandat ek kon loop het ek al saam met my broers krieket gespeel. My pa het baie moeite vir ons gedoen en ‘n krieketnet vir ons opgerig waar ons kon speel. Ons het ook ‘n groot erf gehad waar ons rugby kon speel. Ek het maar elke groot sport gedoen,” dink Janneman terug.

Janneman het sy hoërskooljare by Waterkloof deurgebring waar hy baie sukses met die kolf behaal het. Hy is ook in daardie tydperk vir Noordelikes se o.19 Cokeweek-span gekies en het as aanvangskolwer uitgeblink.

“In graad 9 het ek in ‘n 50 beurt wedstryd teen Garsfontein 214 geslaan. By die o.17-week het ek ook ‘n dubbelhondertal geslaan.”

Janneman se krieketloopbaan het vandat hy vir Pukke en die Dragons van laasjaar af begin speel het, begin blom. Sy insluiting in vanjaar se Varsity Krieketspan-span het hom ook die geleenthede gegee om sy talente op TV ten toon te stel.

“Dit is vir my lekker dat ek en my ouer broer André saam vir die Puk en die Dragons speel.

Ek probeer om hom soos enige ander spanmaat te hanteer. Paar kere laat hy jou wel rustiger op die veld voel,” vertel hy.

Volgende op Janneman se visier is om krieket vir die Lions te speel en dan moontlik vir die land uit te draf en in die groen en goud grenshoue te moker.

Vinnige feite:

Gebore: 18 April 1996 in Nelspruit

Hoërskool: Hoërskool Waterkloof

Gunsteling krieketformaat: Eendagwedstryd (50 boulbeurte)

Studies: B.Com. Bemarking en Toerisme (2de Jaar)

Janneman se huidige beste eendag XI

1.Quinton de Kock (paaltjiewagter)

2.David Warner

3.Joe Root

4.Virat Kohli

5.AB de Villiers

6.David Miller

7.Ravindra Jadeja

8.Ravichandran Ashwin

9.Mitchell Starc

10.Kagiso Rabada

11.Mohammad Amir

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button