SportSport

Jong Luiperds en Bulle sit ‘n drieskouspel aanmekaar op Olënpark

‘n Karnaval van kleurryke hardlooprugby was die vermaak wat die Luiperds en Blou Bulle se o.21 Curriebekerspanne op Saterdag, 10 September op Olënpark verskaf het. Die Blou Bulle het met ‘n 52-38 oorwinning na die eindfluitjie geglimlag, maar die Luiperds kan hul kop hoog hou nadat hulle vir die volle 80 minute in die stryd …

‘n Karnaval van kleurryke hardlooprugby was die vermaak wat die Luiperds en Blou Bulle se o.21 Curriebekerspanne op Saterdag, 10 September op Olënpark verskaf het.
Die Blou Bulle het met ‘n 52-38 oorwinning na die eindfluitjie geglimlag, maar die Luiperds kan hul kop hoog hou nadat hulle vir die volle 80 minute in die stryd was.
Voor die afskop was daar reeds ‘n paar interessante verskille tussen hierdie twee spanne – die Bulle met hul sterspelers en ervare afrigter, Pote Human, en die jong Luiperds met voormalige Springbok losskakel, André Pretorius, as breier.
Met die blaas van die eerste fluitjie kon ‘n mens dadelik sien hoe die Luiperds die bal met gemak rondbeweeg en goeie hardlooprugby wil speel.
Die agter en voorspelers het goed saam met mekaar ingeskakel en ondersteuning gebied. Tapiwa Mafura het die wedstryd se eerste drie gedruk, danksy ‘n uitstekende agterlynbeweging.
Die Blou Bulle se staatmakers het ook op individuele vlak bewys wat in hulle steek. ‘n Goeie voorbeeld hiervan was Mervano da Silva, Manie Libbok en Franco Naude se briljante drieë toe hulle soos ‘n mes deur botter gesny het.
Albei spanne het ook gedurig drieë geruil met ‘n amperse “een vir jou, een vir my” mentaliteit. Verdediging was definitief nie nommer een prioriteit nie, maar dit het wel vir ‘n goeie wedstryd gesorg wat meer in die Luiperds se kloue gespeel het.
Die Luiperds se flank, Rudolph van Deventer, het ‘n harde wedstryd gehad met die stutte Bheki Shongwe en Tshego Moloto wat goed geskrum, maar ook baie waffers met die bal in hand was. Daar was juis een oomblik toe hierdie twee die bal vir mekaar soos senters aangegee het.
Die plaasvervanger skrumskakel vir die Luiperds, Garann Kriek, was ook baie woelig en hy is met ‘n drie in die tweede helfte beloon. Elden Schoeman het ook ‘n pragtige drie afgerond wat sy afrigter laat hande klap het.
Ongelukkig vir die Luiperds was die skade reeds gedoen toe daardie drie met een minuut speeltyd oor, gedruk is.
Die Bulle het die oorwinning verseker met ‘n drie na die sirene toe Adrian Maebane oor is.

Punte:
Luiperds o.21: 38 (16)
Drieë: Elden Schoeman, Garann Kriek, Tapiwa Mafura, Rudolph van Deventer en Wilbri Gunter. Doelskoppe: Marcel Donges (2), Strafskop: Donges (2), Skepskop: Donges.
Blou Bulle o.21: 52 (26)
Drieë: Adrian Maebane, Franco Naude, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Marco van Staden en Mervano da Silva.
Doelskoppe: Tinus de Beer (6)

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button