NewsNews

Huisbraak en diefstal grootste kopseer in Potchefstroom

Soos die res van die land, neem misdaad ook toe in Potchefstroom. Die Potchefstroom Facebook-groep het as deel van die samewerkingsooreenkoms met die Herald voorgestel dat die Herald kyk na misdaad in die dorp.

Soos die res van die land, neem misdaad ook toe in Potchefstroom.

Die Potchefstroom Facebook-groep het as deel van die samewerkingsooreenkoms met die Herald voorgestel dat die Herald kyk na misdaad in die dorp.

Amptelike polisie statistieke vir 2015/2016 is nog nie bekend gemaak nie, maar Mooirivier Beskerming het hulle statistieke aan die Herald vrygestel.

Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, is hierdie statistieke net die voorvalle waarna hulle uitgeroep is.
Volgens dié statistieke blyk dit dat diefstal en huisbraak die grootste probleem in die stad is. In 2015 het Mooirivier Beskerming op 173 gevalle van diefstal gereageer en tot en met Junie vanjaar het hulle reeds 124 diefstalsake hanteer. In 2015 was daar 205 sake van huisbraak in Potchefstroom, terwyl daar reeds 140 sake tot en met Junie vanjaar deur Mooirivier Beskerming hanteer is.
Volgens die nuutste polisiestatistieke (2014/2015) was daar ’n 32% toename in die misdaad wat deur polisie-aksie opgespoor is.
Volgens Mooirivier Beskerming se statistieke is die Bult en die sentrale besigheidsdistrik van Potchefstroom die areas waar misdaad die meeste voorkom. Kapt. Chaka Mvula, polisiewoordvoerder, het dit bevestig. “Die grootste probleem op die Bult is diefstal uit voertuie,” het Chaka gesê. Hy het ‘n beroep op mense gedoen om nie waardevolle items soos skootrekenaars in voertuie te los waar verdagtes dit kan sien nie. Chaka het ook bevestig dat die polisie ekstra patrollies in die areas ontplooi het om deur sigbare polisiëring misdadigers af te skrik. Die Potchefstroom GPF het in verskeie buurte buurtwagte gestig om die polisie by te staan. Enige iemand wat belangstel kan vir Jeanne Adriaanse, voorsitter van die Potchefstroom GPF skakel by 083 236 8563.
AfriForum het ook onlangs ’n tak in Potchefstroom gestig. Die tak het reeds ’n aktiewe buurtwag vir die hele Potchefstroom op die been gebring. Daar is ’n algemene selfoonnommer wat gebruik kan word om in kontak te kom met die AfriForum buurtwag. Dié nommer is 079 099 6648, dit is ’n 24/7 nommer waar lede van AfriForum se buurtwag geskakel kan word. Mense wat by die buurtwag betrokke wil raak kan die voorsitter, Herman Swiegers by 082 824 4191 of die ondervoorstitter, Hendri Myburgh by 072 088 1812 skakel.
Buurtwagte word beskryf as die oë en ore van die polisie. Die buurtwagpatrollies word gebruik as ’n krag vermenigvuldiger om die polisie in kennis te stel van verdagte mense en -gedrag in die woongebied.

Related Articles

Back to top button