Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Foto’s: Gesoute afrigtingspaar lei Volkies na Noordwes-titel

Dit was die perfekte afskeidsgeskenk vir Daan Seymore toe sy o.16 Volkiespan Saterdag met ‘n 27-12 oorwinning teen Potch Gimnasium die Noordwestrofee vashou. Seymore, die waarnemende hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, tree Vrydag uit die onderwysdf na dekades van harde werk op en van die rugbyveld af. Sy getuigskrif lê wel in die feit dat …

Dit was die perfekte afskeidsgeskenk vir Daan Seymore toe sy o.16 Volkiespan Saterdag met ‘n 27-12 oorwinning teen Potch Gimnasium die Noordwestrofee vashou.

Seymore, die waarnemende hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, tree Vrydag uit die onderwysdf na dekades van harde werk op en van die rugbyveld af. Sy getuigskrif lê wel in die feit dat hy, sowel as sy mede afrigter, Christo van Heerden, vir dekades jong seuns se passie vir rugby gekweek het.

Hierdie passie kon ‘n mens duidelik sien Saterdag toe sy span vir Gimmies een te veel was en met hart en durf aangeval en verdedig het.

Volkskool het met mening uit die blokke gekom en na slegs drie minute die eerste drie gedruk toe Luan Dreyer na ‘n briljante aanvallende periode die vrugte van sy span se spel pluk.

Volkies se kaptein, Kobus Burger, het op loskopstut ‘n uitstekende wedstryd gehad en sy span aanhoudend motiveer. Sy spel het ook boekdele gespreek met goeie skrumwerk sowel as met sy skopvoet pale toe – ja hierdie stut skop so goed soos enige goeie agterspeler!

Gimmies het net voor halftyd hulle kanse gegryp na ‘n misplaasde aangee in die hande van Jaco Coetzee beland het. Coetzee het die drie gaan druk en teen halftyd was die telling 10-5. Dit was veral verdien nadat haker, Ricardo Botha en vasskopstut, Anelka Barends, beide uitgeblink het.

In die tweede helfte het Volkies meer beheer begin hou en twee drieë van Basjan Bezuidenhout en Le Roux White het Gimmies se kanse swart gelaat.

Jaco Pretorius het op losskakel ook ‘n goeie vertoning gelewer en die kersie op die koek met sy drie gesit om die telling na 27-12 te skuif vir ‘n soete oorwinning oor die tradisionele teenstanders.

Met die blaas van die eindfluitjie het Seymore en Van Heerden mekaar omhels – vir oulaas het hulle nog ‘n trofee wat jare se harde werk, opoffering en goeie tye langs die rugbyveld versinnebeeld.

“Die afgelope paar maande het verbygevlieg. Hierdie wen beteken baie en ek is dankbaar vir die geleenthede wat die Hemelse Vader vir ‘n mens gee,” het hy na die wedstryd gesê.

*Die o.15-A span van Volkskool het teen Hoërskool Klerksdorp se o.15-A span te staan gekom in die Noordwesfinaal en goed pakslae met 46-7 gekry. Klerksdorp was die gunsteling voor die wedstryd begin het, en was aansienlik groter en sterker as hulle opponente. Hierdie bulspan gaan nog ver kom as hulle hierdie kwaliteit rugby op die veld volhou. Hulle sal wel net aan hulle selfdissipline en houding op die veld moet werk nadat een van hulle spelers met ‘n rooi kaart afgestuur is.

Kyk die foto’s van die 0.16’s se wedstryd hier:

Related Articles

Back to top button