NewsNews

Gesin geskop, aangerand en in huis aangehou

“Ek het die vuurwapen gesien, toe die hand. Daarna het hulle baie aggressief geraak.”

“Ek het die vuurwapen gesien, toe die hand. Daarna het hulle baie aggressief geraak.” So vertel Anne-Marie Steenkamp oor die rooftog waartydens sy en haar gesin aangehou is.

Anne-Marie en haar man Andrè was op 24 Junie omstreeks 20:00 by die huis en besig om televisie te kyk. Anja, hulle dogter, was in haar kamer op haar selfoon besig. Die agterdeur was oop vir die honde. Vier mans het oor die muur gespring en sodoende toegang tot die huis gekry. “Hulle het so stil ingekom dat die honde nie eers geblaf het nie,” vertel Andrè.

Anja Steenkamp wys die deur waar die verdagtes ingekom het. Foto: Dustin Wetdewich
Anja Steenkamp wys die deur waar die verdagtes ingekom het. Foto: Dustin Wetdewich

Die egpaar is heeltemal oorweldig deur die mans. Een van die verdagtes het ’n vuurwapen op hulle gerig terwyl die ander drie gewapen was met messe. Die verdagtes het vir Andrè en Anne-Marie gegryp en op die vloer laat lê. Die honde se komberse is daarna oor hulle gesigte gegooi, terwyl die verdagtes hulle geskop het.

“Ek het die honde hoor blaf en my ma-hulle het geskree ‘nee, nee’. Hulle raas baie met die honde, so dit was nie vir my buitengewoon nie,” vertel Anja.
Anja het met ‘n vriendin wat saam met haar studeer op haar selfoon gesels, toe die mans haar kamer binnekom. Haar vriendin het gehoor hoe sy skree, voordat haar selfoon gegryp is.

Die mans wou daarna van die gesin weet waar die kluis se sleutels is. Andrè, wat kanker het, is deur die mans geslaan sodat hy vir hulle die sleutels moet gee. Anne-Marie het geskree dat hulle hom moet uitlos omdat hy siek is, waarna hulle vir Anne-Marie by die trappe opgesleep het om die kluis oop te maak. Nadat hulle alles uit die kluis verwyder het, het hulle probeer om vir Anne-Marie en Andrè in die badkamer toe te sluit.

“Ek het heeltyd aan Anja gedink, sy was alleen saam met hulle. Ek was bang as hulle ons toesluit dat hulle haar gaan verkrag,” vertel Anne-Marie. Anne-Marie, wat al verskeie operasies aan haar knieg en ‘n rugoperasie gehad het, het nie vinnig genoeg beweeg vir die verdagtes nie. Hulle het haar aanhoudend geskop. Andrè het haar aan die skouers gegryp om haar in die badkamer in te sleep.

“Gelukkig het die badkamer nie ’n sleutel nie, so hulle moes ons almal saam in die ander badkamer toesluit,” vertel Andrè. Anja se vriendin het intussen met Mooirivier Beskerming in kontak gekom wat onmiddellik reaksievoertuie gestuur het. Hulle voertuig het waarskynlik die verdagtes met ’n paar minute gemis. “Hulle het nog geskree, toe is alles stil en die volgende oomblik het ons deurklokkie gelui. Dit is toe dat Mooirivier ons uit die badkamer kon uitkry,” vertel Anne-Marie.

Volgens adj.off. Mpho Manyoba word die waarde van die gesteelde eiendom op sowat R140 000 gereken. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort,” het Manyoba gesê.

Related Articles

Back to top button