HealthLifestyleNewsNews

‘Dwelms het my lewe regeer’

“Ek het op ’n punt gekom waar ek nie self besluite kon neem nie. Dwelms het vir my besluite geneem.”

“Ek het op ’n punt gekom waar ek nie self besluite kon neem nie. Dwelms het vir my besluite geneem.”

So sê die 21-jarige John-Wayne Horn oor sy ervaring as ’n dwelmverslaafde. Dit is moeilik om te glo dat die jong man wat so besorg is oor sy voorkoms, al agter tralies was vir die besit van dwelms tydens sy ses jaar lange stryd teen dwelmverslawing. Aangesien dit Junie dwelmbewustheid maand is, het die Herald met iemand gesels wat al die pad van dwelmverslawing geloop het.

“Dit het alles by alkohol begin toe ek 14 of 15 was, al die geld wat ek bymekaar kon maak het ek gebruik om drank in die hande te kry,” vertel Horn.
Hy vertel hoe hy petrol uit voertuie gaan syfer het om te verkoop vir drankgeld. In die sirkels waarin John-Wayne beweeg het, het dit nie lank geneem voor hy voorgestel is aan dagga nie.

“Van al die dwelms wat ek al gebruik het, het ek vasgehou aan dagga en tik as my keuse van dwelms,” sê hy. In 2013 het John-Wayne net vier dae sonder een van die dwelms klaargekom. Hy het sy besittings verpand om geld te kry vir dwelms. Na ’n ruk het hy ook sy vriende se goed begin verpand. “Ek het goed na die ‘dealers’ toe gevat en gesê gee my R400 se dwelms. Dan sê ek vir myself as ek weer geld het, dan sal ek die goed terugkry. Maar dan kry ek weer geld, en koop net weer dwelms. Dit is maar so ‘n sneeubal effek,” vertel Horn.

Wanneer dit moeilik geraak het om geld in die hande te kry, het John-Wayne jonger kinders voorgestel aan dwelms, omdat hy geweet het hulle kan nog geld uit hulle ouers kry. “Ek het ’n meisie ontmoet wat baie van my gehou het wat ook dwelms gebruik het. Sy het baie vir my dwelms gekoop. Ek het haar maar net aanhou hoop gee dat daar dalk iets tussen ons kan gebeur omdat sy vir my dwelms gegee het.

Dit is hoe dit werk onder verslaafdes, jy het nie regtig vriende nie, almal gebruik mekaar net,” vertel hy. Daar is duidelik pyn op sy gesig wanneer hy begin praat oor die verhoudings wat skade gelei het in die tyd wat hy verslaaf was aan dwelms. Die verhouding met sy ouers, en sy ma spesifiek het erg daaronder gelei. Hy skram weg van die vrae oor die verhouding met sy ma.

“Ja, my en my ma se verhouding het baie sleg geword. Sy het nooit opgegee op my nie, maar eendag net besluit sy kan dit nie meer vat nie en my pa vertel van my dwelmgebruik. Sy wou my glo as ek vir haar sê dat ek gaan ophou dwelms gebruik, maar jy kan nie ’n verslaafde vertrou nie,” vertel hy.
John-Wayne, het teen sy wil na ‘n rehabilitasiesentrum toe gegaan in Kaapstad waar hy begin besef het hy wil nie meer so lewe nie.

“Ek het dan op die vliegtuig op pad na die sentrum nog dwelms gebruik. Dit het my drie maande gevat om die besluit te neem dat ek nie meer wil dwelms gebruik nie,” vertel hy. John-Wayne hou vol dat mens nooit heeltemal gesond is van die siekte van verslawing nie, dit is soos onderhoud wat gedoen moet word. Hy drink glad nie meer nie omdat alles vir hom met alkohol begin het.

“Die Narcotics Anonymous program is die enigste program wat regtig werk. Jy kort die byeenkomste saam met ander verslaafdes om jou op die regte pad te hou. Almal verstaan waardeur jy gaan,” vertel hy. John-Wayne het probeer om die mense wat hy aan dwelms voorgestel het te help nadat hy weer ‘skoon’ was, maar hy sê dat een mens nie die besluit vir ‘n ander kan neem nie. Elke verslaafde moet vir homself besluit dat hy nie meer so wil leef nie. Deesdae hou John-Wayne homself besig by Vusulela waar hy sy N2 doen.

Hy wil aan die einde van die dag leer om ’n helikoptervlieënier te wees. “My grootste boodskap aan ouers is dat verslaafdes nie vertrou kan word of vir hulself dink nie. As jy as ouer uitvind dat jou kind besig is met dwelms moet jy dadelik die kind in ’n rehabilitasieprogram inkry. Hulle gaan vir jou probeer sê dat hulle gaan ophou, maar mens kan nie verslaafdes vertrou nie.

Kry hulp voor dit te laat is,” sê hy.

Related Articles

Back to top button