NewsNews

Eerste verjaarsdag sonder hom

Die bekroonde digter en skrywer prof. T.T. Cloete sou Dinsdag 92 jaar oud geword het. Vanjaar was die eerste keer sedert sy dood in Julie verlede jaar dat sy vriende en geliefdes die Psalmberymer se verjaardag sonder hom in Potchefstroom, gevier het.

Die bekroonde digter en skrywer prof. T.T. Cloete sou Dinsdag 92 jaar oud geword het.

Vanjaar was die eerste keer sedert sy dood in Julie verlede jaar dat sy vriende en geliefdes die Psalmberymer se verjaardag sonder hom in Potchefstroom, gevier het.

En tog was dit met dié geleentheid by die Woordkafee asof die geliefde digter self daar was: ’n DVD-snit is gespeel waarin Cloete op sy kenmerkend warm en nederige manier gesels oor die Psalmberymings waaraan hy tien jaar gewerk het.

Cloete se skoondogter, Augusta, en kleinseun, Stefan, het gesê hulle onthou veral “die klein dingetjies”, onder meer hoe lekker hy gelag het vir sy kleinkinders se grappies en dit oorvertel het.

Dr. Ena Jooste, ’n jare lange van vriendin van Cloete, het soos die afgelope jare ook Dinsdag se verjaardagviering gereël. “Ek is baie emosioneel, dis ’n soort afsluiting.”

Cloete het ’n ryk literêre nalatenskap en word onthou vir sy veelsydige kreatiwiteit. Hy het minstens 20 toekennings en pryse vir sy werk ontvang.

Prof. Heilna du Plooy, digter en letterkundige, het kort ná sy dood gesê: “Hy was ’n baie vaardige en intellektuele digter. Tematies het hy oor alles geskryf, soos sfere wat uitdy: oor sy persoonlike lewe, sy vrou, sy kinders, sy huis, sy stad, ons land, die aarde en die heelal.”

Die Psalmberymings tel onder sy grootste kunsskatte en is net so deel van sy oeuvre as sy ander werk, sê Jooste.

In die DVD Loflied en ’n Loflewe wat Dinsdag vertoon is, sê Cloete: “Dis moeilik om die Psalms singbaar te maak. Ek moes soms afsien van die poëtiese en vra wat die musikoloë verwag.”

Woordkafee, ’n Christelike uitreik-bediening, het dié DVD en ander oor Cloete se Psalmberymings laat maak.

Die Woordkafee gaan in Oktober by die Aardklop-kunstefees ’n fliekkafee getiteld TT Cloete: Kollig op Ekfrasis, aanbied.

Ekfrasis is wanneer een kunsvorm in ’n ander omgesit word – ’n verskynsel wat treffend uitgebeeld is met die viering van Cloete se 90ste verjaardag, toe die kunstenaar Frank Pereira Cloete se gedigte in skilderkuns uitgebeeld het.

“Aardkloppers kan vanjaar kom kyk hoe Cloete se eie ekfrasis in sy 90ste jaar deur hom toegelig is,” sê Jooste.

Die digter het op sy 90ste verjaardagviering gesê: “Ek staan verwonderd op ’n berg van vreugde en liefde. As ek nog op my sterfbed kan praat, sal ek sê: Gracias, Gracias, Gracias – baie dankie.”

* Die DVD-opnames waarin Cloete oor die Psalmberymings praat, is by die Woordkafee in Stilstraat 9 te koop. Kontak hulle op woordkafee@gmail.com of bel hulle by 018-285 1061 of 082 403 5130.

Related Articles

Back to top button