SportSport

Onoorwonne Flames is aan die brand in Brutal Fruit Premierliga

Daar is geen keer aan die onoorwonne Noordwes-Flames hierdie jaar nie. Dié span onder leiding van die ervare Dorette Badenhorst, speel kookwaternetbal en is oorgehaal om die groepfase van die Brutal Fruit-premierliga in die eerste plek af te sluit. Sodoende sal hulle van ’n halfeindstryd verseker wees. Slegs die Gauteng Golden-Fireballs staan nog in die …

Daar is geen keer aan die onoorwonne Noordwes-Flames hierdie jaar nie.

Dié span onder leiding van die ervare Dorette Badenhorst, speel kookwaternetbal en is oorgehaal om die groepfase van die Brutal Fruit-premierliga in die eerste plek af te sluit. Sodoende sal hulle van ’n halfeindstryd verseker wees.

Slegs die Gauteng Golden-Fireballs staan nog in die pad van die oortuigende Flames. Hulle pak mekaar Saterdag om 18:00 (regstreeks op SuperSport 10) in die laaste ronde van die groepfase in die Ellispark-arena in Johannesburg.

Selfs al verloor die Flames, behoort hulle steeds onder die voorste twee spanne te eindig.

Die Flames het hulle laaste drie kragmetings teen die Fireballs redelik oortuigend gewen.

Die Noordwesters het verlede naweek twee reuse-oorwinnings oor die Limpopo-Baobabs (79-28) en Noord-Kaap Diamonds (82-21) aangeteken. Laasgenoemde sege was met ’n rekordtelling vir die grootste doeleverskil in die reeks se bestaan en meeste doele aangeteken.

Wat die tellings egter nie sê nie, is dat dit sonder baie van die provinsie se eerste keuses vermag is. Dit dui op goeie diepte en dat al die spelers op dieselfde bladsy is.

Die breier Dorette Badenhorst het die wedstryde gebruik om ’n paar kombinasies te toets. Soos om Renske Stolz, gewoonlik ’n hulpdoel, op aanvallende vleuel te speel en Nadia Uys, ’n verdedigende vleuel, op senter in te span.

“Ek wou Marike Maree op hulpdoel speelkans gee. ’n Mens weet nooit wanneer jy nog ’n doelskieter mag benodig nie,” het Badenhorst die keuse op hulpdoel verduidelik.

Related Articles

Back to top button