Local news

Taxi-‘mafia’ teister glo inwoners

Bolt-bestuurders word toegang na Riverwalk geweier en hulle kan  slegs die agterste ingang gebruik om studente by dié inkopiesentrum af te laai.

Deur Engela Roux, Zané Steyn, Michelle Hammann, Ilzaan Muller, Bernhardt Niemand en Liza van Rooy

Noordwes-Universiteit (NWU) studente word al hoe meer geïntimideer deur Potchefstroom se taxibestuurders. Hulle
word verhoed om gebruik te maak van ander vervoerdienste soos Bolt en Uber. Die polisie en munisipaliteit het nog nie met ‘n oplossing vorendag gekom nie en daar word beweer dat hulle deel vorm van die korrupsie. Sekere areas, insluitende die Riverwalk  winkelsentrum, wat langs die stad se grootste taxi-staanplek geleë is, word deur die taxibestuurders beheer.
Bolt-bestuurders word toegang na Riverwalk geweier en hulle kan  slegs die agterste ingang gebruik om studente by dié
inkopiesentrum af te laai. “Mense is bereid om geweld te gebruik vir hulle eie ekonomiese oorlewing. Taxibestuurders kan nie die pryse opstoot nie, daarom moet hulle meer passasiers kry,’’ vertel prof. Piet Croucamp, NWU dosent wat sy PhD oor Suid-Afrika se taxi-geweld voltooi het.

Hy het genoem dat die Potchefstroom Ventersdorp pad gemonitor word deur mense wat deur die taxi-eienaars aangestel is. Hulle werk is om te kyk dat geen taxi- of Bolt bestuurders op paaie ry waar hulle verbied is deur die sogenaamde taxi mafia nie. “Daar is geen ondersteuningsnetwerk vir Bolt-bestuurders nie,” verduidelik Croucamp oor hoe hulpeloos dié individue
voel teenoor die taxi industrie. Die afgelope Junie-vakansie moes Eulander Langa, ‘n senior student, buite die NWU hoofhek opstaan teen ‘n taxibestuurder om haar mede-studente te beskerm. Dertien mans het die groep studente omring om hulle vas te keer. “Jy gaan nêrens heen ry met hierdie studente nie, hulle behoort aan die taxi’s,” het die taxibestuurder gedreig. Eulander het geantwoord dat hulle nie besittings is nie, maar dat hulle mense is en dit hulle keuse is om privaat vervoer te gebruik. Sekretaresse van die NWU Geesteswetenskappe fakulteit, Lethabo Maseko, vertel hoe ‘n taxibestuurder by die Riverwalk inkopiesentrum haar deur oopgeruk en die handrem opgetrek het van die Bolt motor waarin sy was.

Sy moes teen haar wil die motor verlaat en stap na die naaste McDonald’s, waarna ‘n klomp taxi’s enige Bolt of Uber verhoed het om studente op te laai. “Jy kan dit gaan rapporteer by die polisie, hulle weet en gaan niks daaraan doen nie,” het die taxibestuurder aan Lethabo gesê. Thapelo Manyako, ‘n voormalige Bolt bestuurder in Potchefstroom, vertel dat hy in areas wat deur die taxibestuurders ‘besit’ word, eerder sy passasiers te voet gaan haal het. Hy het hulle dan na sy motor geneem wat op ‘n veilige afstand geparkeer is. Thapelo verduidelik dat die uitbreiding van dié studentedorp die taxi konflik vererger. Alhoewel Potchefstroom se taxi mafia ‘n kommerwekkende probleem is, blyk dit dat meeste studente nog geen probleme ervaar of enige onveilige interaksies met taxibestuurders as ‘n Bolt-passasier beleef het nie.

“Baie polisiebeamptes is bang vir die taxi bedryf, so hulle werk dan eerder vir die taxi eienaars,” vertel Croucamp oor Suid-Afrika se omvattende taxi korrupsie. Taxibestuurders betaal gewoonlik ook self ‘n fooi vir beskerming teen mafia base sodat hulle toegelaat word om passasiers by groot winkelsentrums af te laai. Bolt- en Uber-bestuurders word magteloos gelaat aangesien owerhede huiwerig is om klagtes teen die taxibestuurders te hanteer. Een Bolt-bestuurder vertel dat hy ‘n saak wou aanmeld in Potchefstroom, maar dat hy weggewys is omdat hy “alleen nie genoeg
is” nie. Polisiewoordvoerder kolonel Adéle Myburgh het daarop geantwoord dat dienslewering aan die gemeenskap ‘n
prioriteit is. Enige ongerymdhede kan na die Noordwes klagtekantoor verwys word. Volgens Myburgh moet enigiemand wat weet van polisielede wat betrokke is by die ongerymdhede dit dadelik by die klagtekantoor rapporteer. Myburgh sê dat enige korrupsie nie geduld sal word nie.

Related Articles

Back to top button