CrimeLocal news

Oud-redakteur gebruik Facebook om gesin se lewe te red

Die gesin is helder oordag aangeval.

Ongeag hoe jy oor sosiale media voel, kan dit soms ‘n wonderlike ding wees. Soos gister se geval waar ‘n noodkreet wat op Facebook geplaas is, lesers in aksie laat spring het en die lewe van ‘n gesin gered is.

Retha Fitchat, haar man Ben en hul seun Barry, is Vrydag helder oor dag in hulle huis in Melt Brink Straat in SE2, Vanderbjilpark aangehou, aangerand en beroof.

Drie gewapende rowers het glo diefwering en die voordeur met ‘n koevoet oopgebreek en so toegang tot die huis gekry.

Retha, oud-redakteur van Vaalweekblad, kon daarin slaag om haarself in ‘n vertrek met haar skootrekenaar toe te maak. Sy het toe ‘n noodboodskap op Vaalweekblad se Facebookblad geplaas, voordat die verdagtes die kamer kon binnedring.

Vaalweekblad se lesers het vinnig tot aksie oorgegaan en die polisie sowel as die Gemeenskap Polisiëring Forum ontbied.

Die rowers het glo gevlug nadat ‘n deurklokkie afgegaan het en Retha hulle oorrreed het dat dit ‘n alarm was.

“Ons Fitchat-gesin sê graag baie dankie aan almal wat ons gister, 6 September, kom bystaan het na die rooftog by ons huis in SE2, Vanderbijlpark. Ons seun Barry is nog in Emfuleni Mediclinic se ICU. Die rowers het hom twee keer met ‘n breekyster oor die agterkop geslaan en hy het ook ander minder ernstige beserings aan sy gesig en lyf. Die rowers het my man se hande seergemaak en hy het ‘n paar kneus- en skraapplekke. Ek het ‘n groot bloukol aan my arm maar is verder ongedeerd. Terwyl die rowers met my man en seun besig was, kon ek ‘n minuut lank wegglip en die Facebook-noodboodskap van my werk se skootrekenaar af stuur. Hulle het in daardie stadium reeds my selfoon afgevat. Ek sal later in die week meer vertel van wat gebeur het,” het Retha in ‘n Facebook-plasing op Vaalweekblad se blad gesê.

Die noodboodskap op Facebook.

Related Articles

Back to top button