Local newsNewsSportSport

Groot ongelukkigheid oor nuwe kostes van skietbaan

Die prys is met 163% verhoog.

Daar heers groot ongelukkigheid onder plaaslike inwoners, sportmanne en sekerheidsfirmas oor die nuwe kostes wat deur die munisipaliteit bekend gemaak is vir die gebruik van die JB Marks-skietbaan.

Kostes vir baan gebruik is verhoog vanaf R133 per persoon na R350 per persoon.

Die koste per individu is so hoog dat dit die skietbaan een van die duurste opelug skietbane in Suid-Afrika maak.

Leandro De Beer van Potchefstroom First Responders sê gebruikers wil weet of die nuwe kosteberaming dalk ‘n fout was, of is dit die munisiplaiteit se idee om die baan soos die res van die munisipale infrastruktuur te laat ondergaan?

Buitelig en sportskiet inwoners sal nou genoodsaak wees om buite die dorp op privaatpersele te gaan skiet, wat tot gevolg sal hê dat die JB Marks-skietbaan nie meer fondse inbring vir die munisiplateit nie. Gevolglik kan dit moontlik die ondergang en sluit van die baan beteken.

Die koste implikasie is ‘n prys verhoging van 163%.

Johan Naude het op Facebook gesê die verhoging is onredelik en sonder meriete.

“Sit eerder en vergader met die gebruikers van die baan om tot ‘n redelike oplossing te kom indien ‘n drastiese verhoging nodig is vir watse rede ookal.”

Alta Swart Pretorius sê dit gaan die skietbaan en als wat goed is wat daar gebeur, laat sink.

“’n Verhoging van R133 na R350 gaan skietbaan doodmaak. Dit is baie meer as wat privaat bane vra. In my opinie is so ‘n verhoging ongevraagd en buitensporig,” het Flip van Schalkwyk op sosiale media gesê.

Lomus Smit sê: “Hierdie is nie n inflasie gebaseerde verhoging nie en vergelyk glad nie met privaat skietbaan fooie nie. Julle gaan die fasiliteit doodmaak met die buitensporige kostes.”

Navraag is by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van hierdie publikasie, is geen terugvoering ontvang nie.

 

Related Articles

Back to top button