Local news

Beskerm ons bome

Dit is ons verantwoordelikheid om die bome te beskerm.

’n Griekse spreekwoord sê “‘n Samelewing word wonderlik wanneer ou mans bome plant in wie se skadu hulle nooit sal sit nie.”

Potchefstroom is die stad met die langste akkerlaan in die Suidelike Halfrond, maar agter hierdie lang ry bome wat tot en met 7km strek, is daar ‘n pragtige, inspirerende storie van ware nalatenskap en leierskap.

Die eerste eikebome is in September 1863 in Potchefstroom op die eiendom van president MW Pretorius geplant. Die bome wat nou die historiese Eikelaan omsluit, is in 1910 geplant na ‘n besluit van die Dorpsraad onder leiding van BR Gericke.

Baie glo egter die ware storie is dat die bome geplant is langs die roete wat Gericke elke dag op sy fiets gery het om by die Landboukollege te gaan werk. Gericke wou gehad het almal wat hierdie pad stap, moes in die skadu stap en die uitsig geniet. Volgens bronne is hy oorlede voordat die bome skadu kon maak.

Hans-Jurie Moolman, ‘n leier van die gemeenskap, sê dit is vir hom baie inspirerend en simboliseer die kern van eienskap van ware leiers.

“Leiers is persone wat deur hulle positiewe nalatenskap in hierdie wêreld uitoorleef word.”

Hierdie bome is ‘n erfenis en so belangrik dat ‘n petisie van stapel gestuur is om die bome te beskerm toe daar jare gelede van die bome verwyder wou word. Dit het daartoe gelei dat die laan as ‘n Nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Volgens Artikel 27(18) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, Wet 25 van 1999 mag geen persoon enige erfenisterrein vernietig, ontsier, uitgrawe, verwyder van sy oorspronklike posisie, onderverdeel, of die beplanningstatus van enige erfenisterrein verander nie, sonder ‘n permit deur die erfenishulpbronowerheid verantwoordelik vir die beskerming van die sodanige terrein.

Related Articles

Back to top button