CommunityCommunityLocal newsNews

Trompie ondergaan gedaante verwisseling

Trompie floreer vandag in sy nuwe omstandighede.

Net vel en been en amper op dood se voorstoep, het Trompie die basterbrakkie diep in al die inwoners van Potchefstroom se harte gekruip.

Trompie is op 26 Mei 2024 langs ‘n pad buite Potchefstroom opgetel en niemand het gedink hy sal dit deur die nag maak nie.

Annelize van der Westhuizen, onder-voorsitter van PAWS, het daardie dag ‘n oproep ontvang en sy is gevra of sy kans sien om die hond in te neem. Sy het natuurlik ja gesê aangesien sy en haar man vanaf 2018 by PAWS betrokke is.

“Ek het onmiddelik ja gesê sonder dat ek geweet het hoe hy regtig lyk. Ek en my man het na PAWS gegaan om vir Trompie te gaan haal. Ek was geskok, kwaad en hartseer dat iemand ‘n troeteldier in so ‘n situasie plaas. Dis hoekom PAWS nood-hokke het om diere daar af te laai sodat mense hulle nie langs die pad los nie. My eerste woorde aan my man was ‘ek glo nie hy gaan vanaand maak nie.’ Hy was in ‘n baie slegte toestand, baie verward en baie bang. Hy was eintlik leweloos gewees,” vertel Annelize.

Annalize sê nadat hulle hom huis toe geneem het, gebad en kos en water gegee het, het Trompie geen energie of krag gehad nie en wou net heeltyd lê.

“Ons het vir hom bietjie water en bietjie kos op ‘n slag gegee omdat sy maag gekrimp het. Daarna het ons hom in ‘n lekker warm mandjie met ‘n tedddiebeer en komberse gesit. Ek en my man het elke twee ure opgestaan om hom toe te maak en seker te maak dat hy genoeg vloeistowwe inkry.”

Donasies vir Trompie het ingestroom en hulle kon seker maak hy het als wat hy nodig het.

Annelize vertel Trompie het intussen ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en is nou heeltemal ‘n ander hond. Hy lewe nou soos ‘n koning.

“Hy was baie bang gewees in die begin en wou nie dadelik kontak maak nie. Dit het lank gevat om sy vertroue te wen. Nou is dit heeltemal anders. Hy hou daarvan om saam die ander viervoet kinders te speel en is baie lief vir bad. Hy volg my die meeste van die tyd oral waar ek gaan. Hy is ook baie lief vir kos. Hy het sewe kilos opgetel vandat ons hom gekry het. Daar moet nog ‘n paadjie met hom gestap word maar elke dag gaan dit al hoe beter. Hy lyk baie mooi en sal mens nie sê dit is dieselfde hond wat langs die pad gelê het nie.”

Annelize sê die toekomstige planne vir Trompie is om by haar gesin te bly. Hulle het baie geheg geraak aan hom en wil ook verhoed dat hy weer in so situasie beland.

“Dit is ‘n eer net om hom te kon deurtrek en nog ‘n kans in die lewe te gee. Om vir hom te kan wys wat liefde is en waar hy kan veilig voel.”

Trompie in die veld waar hy opgetel is.
Trompie net nadat hy gered is.
Trompie saam met Annelize en haar man.
‘n Gesonde Trompie vandag.

Related Articles

Back to top button