CommunityLocal newsNews

Promosa gemeenskap tel stukke na chaos op

Lede van die Promosa gemeenskap word nou gelos om die stukke na gister se chaos op te tel.

Lede van die Promosa gemeenskap wat gister geen deel aan die geplunder en betoging gehad het nie, word nou gelos om die stukke na die chaos op te tel.

Klippe, bande en honderde spykers moes uit die pad uit verwyder word.

Ses mans van die gemeenskap het besluit om dit op hulself te neem om die strate skoon te maak.

Ronnie Afrika, Kelvin Johnson, Leben Schoeman, Marlon Afrika, Jeremy Waters en Melton Langford het vanoggend vroeg opgestaan en by Promosa se strate ingespring.

Ronnie Afrika sê dit is hulle gemeenskap en hulle ry en loop ook op die paaie.

“Ons het kinders wat van hier af moet skool toe gaan. Ons groep mans het gisteraand besluit ons sal ons gemeenskap se strate skoonmaak.”

Kelvin Johnson sê daar sal altyd ‘n kriminele kant aan ‘n protes wees omdat nie almal met dieselfde intensies gaan nie en party mense hulle eie agendas dryf.

“Ons is glad nie gelukkig oor wat gebeur het nie. Ons keer dit onder geen omstandighede goed nie, maar dit is onmoontlik om mense op te voed wanneer hulle hoop verloor het, nie werk het nie en honger is. Ons is hartseer dat dinge so moes uitdraai.”

Glenville Fransman, ‘n gemeenskapsleier, het die mans persoonlik bedank.

“Ons is baie dankbaar vir die gemeenskapslede wat help om die stukke weer op te tel. Ons wens daar was meer wat ons kon doen om ons dankbaarheid aan hulle te wys.”

Die mans van die gemeenskap besig om die pad skoon te maak.
Ronnie Afrika, Kelvin Johnson, Leben Schoeman en Marlon Afrika.

Related Articles

Back to top button