Local news

Potch sangeres vir Afri-Indie toekenning genomineer

Janine se talent vir sing het al vroeg ontwikkel.

Janine Oelofse, ‘n sangeres van Potchefstroom, is vir die gesogte Afri-Indie musiektoekenning 2024 genomineer en sal 7 Augustus die rooi tapyt aand by die Afriforum teater in Pretoria bywoon. Sy is vir die beste Southern Rock met haar enkelsnit ‘I don’t need tissues’ genomineer.

Janine is in Carletonville gebore en het haar laeskool loopbaan daar voltooi voordat sy in Hoër Volkskool Potchefstroom in die koshuis was. Sy woon nou permanent in Potchefstroom. Sy is vir ses jaar met haar man getroud en die paartjie het twee dogtertjies.

Janine vertel sy skryf al vandat sy tien jaar oud is haar eie liedjies, maar haar ouers het eers later agter gekom dat sy kan sing.

“Ek was twaalf jaar oud toe my ouers werklik agter gekom het ek kan sing. Dit was ook op daai ouderdom wat ek die eerste keer voor mense opgetree het. Ek sal nooit vergeet nie, ek het nog die liedjie Lepellê van Juanita Du Plessis gesing.”

Al werk sy nou as ‘n makelaar, sing sy steeds en is dit een van haar drome om voltyds te kan sing.

“Ek het op 1 Junie 2024 my heel eerste album, Glimlag vir my, uitgebring. Dit is regtig een van die toppunte in my loopbaan sovêr.”

Sy vertel sy wou na skool in Pretoria drama gaan studeer het, maar haar pa het geweier om sy jongste so ver op haar eie te stuur. Sy het toe BA kommunikasie by NWU studeer.

Nog een van Janine se groot drome is om musiek en drama bymekaar te bring en so ook haar eie musiekskool te begin.

Janine sing elke jaar by Aardklop en sy sal hierdie jaar op Braaidag sing. Sy gaan ook in Oktober ‘n vrystelling van haar album by ‘n groot funksie saam met IDUC en David Louw hou.

Jy kan hier na haar musiek luister: https://music.youtube.com/playlist?list=OLAK5uy_m5YpwEfJwXHKcdZct0rWRsNPv1tWC-jUw&si=Xv3K-7sWMLeVyj_r

Related Articles

Back to top button