Local news

Kunstige Potchefstromers as finaliste in kompetisie aangewys

Drie kunstenaars van die Noordwes is as finaliste van die Sasol New Signatures 2024 aangewys en sal die Noordwes in September verteenwoordig.

Twee kunstenaars van Potchefstroom en een van Klerksdorp is op 3 Julie as finaliste van die Sasol New Signatures 2024 aangewys.

Maria de Vos en Rachel van der Westhuizen, albei van Potchefstroom, sowel as Madeleine Travers, van Klerksdorp, se werke is gekies om die Noordwes provinsie se kunstalent nasionaal te verteenwoordig.

Sasol New Signatures is ‘n gesogte nasionale kunskompetisie wat al vir 34 jaar aangebied word. Die kunstenaar wat die kompetisie wen, word met R100 000 beloon asook die geleentheid om in Parys, Frankryk te werk.

Die beoordeling van die kunswerke het by die Potchefstroom museum plaasgevind. Dit was die eerste keer wat die museum ‘n versamelpunt vir kuns in die Noordwes provinsie was. Museumpersoneel het in samewerking met die Potchefstroom Kunsvereniging gehelp om altesaam 29 inskrywings te ontvang en uit te stal.

Die doel van Sasol New Signatures is om nuwe kunstalent van regoor die land te eien. Elke jaar word ‘n tema gekies waarvolgens kunstenaars werke moet skep. Vanjaar se tema was “Artikuleer”. Beoordelaars is daarop gerig om kunstenaars met unieke style en onkonvensionele tegnieke te kies. Enige kunstenaar bo 18 jaar oud kan vir die kompetisie inskryf.

Vanjaar se beoordelaars by die museum was Pfunzo Sidogi, voorsitter van Sasol New Signatures, Cate Terblanche, kurator van Sasol se kunsversameling, en dr. Nathani Lüneburg, kunsgeskiedenisdosent aan die Noordwes universiteit.

Die wenner van die kompetisie word op Woensdag, 4 September 2024 aangewys.

Related Articles

Back to top button