Local news

Hoërskool seun trek verdagte vas wat meisie probeer beroof

‘n Hoërskool seun het ‘n verdagte in Suiddorp vasgetrek wat glo ‘n jong vrou gewurg en probeer beroof het.

Wikus Van Aswegen (18) is ‘n ware held nadat hy Dinsdag ‘n verdagte vasgetrek het wat glo ‘n meisie gewurg en probeer beroof het.

Yolande Du Toit, Wikus se ma, sê sy en haar seun het omstreeks 17:30 na ‘n winkel in Sol Plaatjiestraat, Suiddorp geloop. “Op pad terug het ons ‘n jong vrou voor ons sien loop. Daar was ‘n man wat reg agter haar geloop het en een wat aan die oorkant van die pad geloop het. Wikus sê toe vir my dat hy die gevoel kry die mans gaan moeilikheid maak.”

Wikus se woorde was skaars koud, toe hulle die meisie hoor skree. “Die meisie was net om die hoek, toe ons haar hoor skree. Ek het vir Wikus gesê om te hardloop.”

Wikus wat ‘n leerder by Hoër Volkskool is en vir die eerstespan rugby speel, het die verdagtes nagesit en kon daarin slaan om een van die verdagtes te duik. Yolande het vir Mooirivier Beskerming gebel en kort voor lank was hulle op die toneel. Die tweede verdagte het weggekom.

Volgens Yolande het die vrou vir hulle gesê sy was besig om ‘n Tiktok-video te maak toe die een verdagte haar nader en vir ‘n R5 vra. Dit is toe wat hy haar glo begin wurg en probeer het om haar selfoon te gryp. “Sy het vir my gesê as dit nie vir Wikus was nie, weet sy nie wat hulle alles aan haar sou doen nie. Ek is so trots op my seun. Ek het hom nog nooit so vinnig sien hardloop nie. Hy het iemand in nood gehelp en dit reggekry om ‘n verdagte vas te trek.”

Related Articles

Back to top button