Local news

Driekamp-atleet maak kwadrupleeg se driekamp-droom ‘n werklikheid

Frans Badenhorst vertel hoe hy sy kwadrupleeg-vriend, Dano Swart, saamgevat het op 'n driekamp-liga.

Frans-Hendrik Badenhorst (26) het Saterdag, 27 April aan ‘n driekamp-liga deelgeneem waartydens hy Dano Swart (22), ‘n kwadrupleeg, op al sy items saamgeneem het.

Frans het in 2019 daaraan begin dink om ‘n driekamp-atleet te word en het in 2020 sy eerste driekamp-liga voltooi. Hy het op 21 April vanjaar aan die Afrika Kampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem.

Frans en Dano, wat lewenslange vriende is, sê gereeld vir mense dat hul broers is. “Ek is natuurlik die mooiste broer,” lag Frans. Met die hegte band wat tussen die vriende bestaan, kon hul broers gewees het. Frans en Dano het op ‘n keer ‘n gesprek gehad oor hoe die Ysterman Kampioenskappe Frans se lewe verander het. Dano het aan Frans genoem dat hy gewens het hy kon so iets beleef, maar besef dis nie moontlik nie, waarna Frans vir hom gesê het: “Dis waar jy die fout maak. Kom ons doen dit, ek sal jou bene wees.”

Frans en Dano. Foto: Verskaf.

So het die idee ontstaan en maande se voorbereiding het begin. “Ek het baie ure geoefen onder uitstekende afrigting en baie motivering,” noem Frans. Hy gesels oor sy en Dano se driekamp-liga en noem dat veral die fietsry en swem baie moeilik was. “Tydens fietsry is dit ‘n ekstra 100 kg wat statiese gwig is, so dis baie hard op jou lyf. As jy nie perfekte kondisies het vir swem nie, is dit baie moeilik. Die hardloop was baie stadiger as normaalweg, maar nie so moeilik soos die fietsry en swem nie.” Frans het sy swem voltooi deur Dano in ‘n boot agter hom aan te sleep. Dano het in ‘n karretjie gery wat hy agter aan Frans se fiets vasgemaak het, en het Dano in ‘n aangepaste rolstoel gestoot vir die hardloop.

Die twee vriende tydens die swem.

Isak Hitge het Saterdag aan die Noordwes Tweekamp kampioenskappe deelgeneem waar Frans en Dano hul driekamp-liga gedoen het. “Hy het vinniger geswem as baie van die ander, en ook vinniger fietsgery. Dit was besonders, ek kon my oë nie glo nie.” Yolanda Kruger, administrateur en organiseerder van die NW Tweekamp en Driekamp Kampioenskappe was baie bly om Frans en Dano te kon fasiliteer.

“Die ondersteuning en om die liga te voltooi was die beste deel. Die ondersteuning was ongelooflik, almal het ons konstant aangemoedig,” vertel Frans.

Dano Swart (links) en Frans Badenhorst tydens die liga. Foto: Verskaf.

Frans en Dano het einde 2023 ‘n nie-winsgewende organisasie genaamd Beyond Barriers Foundation begin om mense bewus te maak van die konstante struikelblokke wat mense met tekortkominge beleef. “Ons hoop om ‘n gemeenskap te bou waar hierdie mense die held in die storie kan wees; ‘n plek waar hul nie net tuis voel nie, maar wat vir hulle die geleentheid bied om te ontwikkel, te kompeteer en ‘n plek waar hulle emosioneel, fisies en geestelike ondersteuning kry.”

Frans en Dano is in die proses om ‘n webblad te skep vir hul NPO. Die vriende gaan Vrydag met RSG gesels, en is deur ander radiostasies genader vir onderhoude. Lesers kan meer oor die Beyond Barriers Foundation uitvind deur Dano Swart se Instagram te besoek by @ danoswart23, of direk na Beyond Barriers Foundation se Instagram te gaan by @_ beyondbarriersfoundation_. Daar is ook ‘n Facebookblad wat lesers kan besoek by @ beyond.barriers.foundation.

Related Articles

Back to top button