News

Gimmie spiesgooier gooi weer goud raak by SA kampioenskappe

Potchefstroom Gimnasium se Stephané Hook, wat veral puik was in die o.20 vroue kategorie om haar spiesgooititel van 2023 te verdedig.

Die top skool en jeugatlete van Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) het altesaam 50 medaljes (17 goud, 16 silwer en 17 brons) ingepalm tydens die ASA Kampioenskappe vir o.16, o.18, o.20 en o.23 wat vanaf 21-23 Maart by die Pilditch Atletiekstadion in Pretoria plaasgevind het.

Sodoende eindig ACNW in die vierde plek algeheel agter Boland (derde), Sentraal Gauteng (tweede) en Atletiek Gauteng Noord (eerste). Gauteng Noord spog met ‘n oes van 144 medaljes.

Die top jong atlete van die land het tydens drie dae van hoe kwaliteit aksie hulle alles gegee om te bewys wie koning in SA atletiek kraai.

‘n Hele paar plaaslike ACNW atlete het vir uitstekende uitslae gesorg en die atletiekkennis se oë laat rek. Viwe Jingqi (vroue o.20 100m en 200m) sowel as Benjamin Richardson (mans u.23 100m en 200m) het dubbele goud in hul items behaal en die septer as die spoedkonings en koninginne geswaai. Jingqi is oor die lyn in die 100m in 11.34 sekondes en 22.96 sekondes in die 200m.

Richardson behaal 100m goud in 10.14 sekondes en 200m goud in 20.29 sekondes. Mihlali Xotyeni (ACNW) is derde in die mans o.23 100m in ‘n tyd van 10.35.

“Ek is baie opgewonde en gelukkig dat die harde werk nou vrugte afwerp. Verlede jaar moes ek baie beserings oorkom. Ek moes net geduldig wees. Ek is opgewonde om vorentoe glimlagte op mense se gesigte met my prestasies te sit,” het Jingqi, na afloop van haar item genoem.

Ander skitterende vertonings sluit in die van Renier de Villiers in, wat goud in die mans o.23 800m item behaal het. De Villiers moes juis ook ‘n beseringspook klop om hierdie prestasie te kon behaal. Hy kry eerste plek in ‘n puik tyd van 1:47.47.

Die voormalige Gimmie sportster, Danielle Verster, wys weer haar klas in die vroue o.23 1500m met ‘n eerste plek in 4:22.84.

Nog ‘n oud-Gimmie, Rico Leijenaar, behaal ook ‘n tweede plek in die mans o.20 5000m-item. Leijenaar gaan oor die lyn in 14:32.12.

Karmen Fouché het nog ‘n SA medalje by haar trofeekas gevoeg toe sy ‘n tweede plek in die vroue o.23 verspring-item met ‘n sprong van 6.63 meter behaal.

ACNW se spiesgooiers was ook op goeie vorm met Ewald Jansen wat die mans o.20- goud vat met ‘n gooi van 69.80 meter. Righardt Stander behaal silwer in die mans o.23 spiesgooi-item met ‘n gooi van 62.04 meter. Armand Willemse is derde met sy afstand van 58.23 meter.

Oudergewoonte het ACNW se stappers ook met lof hul talent ten toon gestel. Marissa Swanepoel wen goud in die vroue o.23 10 000m stap in ‘n tyd van 51:05.56. Die oud-Volkie, Janise Nell, is tweede in hierdie wedloop in ‘n tyd van 54:22.87.

By die dogters o.20 10 000m stap-item is Keandra Jooste tweede in 54:39.95 met die oud-Volkie, Marizel Meintjies (55:58.12) wat brons verower.

Op skolevlak was daar ook ‘n hele paar goue uitslae met Potchefstroom Gimnasium se Stephané Hook, wat veral puik was in die o.20 vroue kategorie om haar spiesgooititel van 2023 te verdedig. Sy het met ‘n persoonlike beste afstand van 46.43 meter, hierdie seisoen, bewys dat sy boaan die podium behoort. Haar persoonlike beste in haar loopbaan is 47,86 meter.

“Ek voel vreeslik geseënd om vir die tweede agtereenvolgende jaar met ‘n Goue Medalje van die ASA o/16, o/18, o/20 eno/23 Kampioenskap terug te keer Potchefstroom toe. Dit was ‘n uitdagende en emosionele jaar.

“Op die dag is dit ek wat goud ontvang, maar dis regtig ‘n spanpoging van talle mense agter die skerms wat my ondersteun, en my gesond en beseringsvry hou deur die seisoen. ‘n Spesiale word van dank aan ons Hemelse Vader vir die Talent en Liefde vir die sport wat ek van Hom ontvang het asook my afrigter, Dr. Chris De Beer, wat my help om my talente verder te ontwikkel, my mentor en my elke dag herinner hoekom ek so lief vir die sport is,” noem Hook.

Gimmies se ander goue ster is Renate van der Merwe wat in die dogters o.16 5000m stap ‘n tyd van 27:24.60 behaal om die eerste plek te vat en as SA kampioen gekroon te word. Gimmies se hekkies-sensasie, Sandri van Rooyen behaal ‘n treffende bronsmedalje in die vroue o.20 100m hekkies in ‘n tyd van 14.11 sekondes.

Haar Gimmie-spanmaat, Imké Bornman behaal as graad 8-leerder ‘n skitterende bronsmedalje in die dogters o.16 diskus-item. Bornman laat die diskus 38.84 meter trek.

 

Related Articles

Back to top button