Local news

Potchefstromer stel treffende debuutalbum bekend

Christi, 'n oud-Gimmie, het haar eerste vollengte album en nuwe enkelsnit "Love Burn" vrygestel.

Die talentvolle Potchefstroomse sangeres en liedjieskrywer, Christi, het onlangs haar debuut-album – Fall Apart – uitgereik, asook haar nuwe enkelsnit, “Love Burn” en gepaardgaande musiekvideo vrygestel.

Christi is gereed om golwe in die musiekwêreld te maak met haar debuutalbum, “Fall Apart.”

Christi het verlede jaar met die “Fall Apart” en “Rain” as enkelsnitte reeds haar talent getoon. “Love Burn” is weer eens ‘n treffer wat die hartsnare tref en die gevoelens van ‘n eensydige verhouding op melodiese wyse verwoord.

“Nadat my langtermynverhouding tot ’n einde gekom het, het ek besef dat ek die persoon met wie ek uitgegaan het, nie regtig geken het nie. Ek het die verhouding van sy kant af begin sien en dit wat uitgebeeld was, was baie anders as terwyl ons saam was. Net soos Taylor Swift, het ek my hartseer en teleurstelling omgesit in lirieke en ’n liedjie daaroor geskryf,” vertel sy oor haar vyfde enkelsnit.

Die musiekvideo is verfilm by ’n tweedehandse plaat- en CD-winkel, Microgram Music Traders, en is vervaardig deur die uiters bekwame en begaafde Gerduan Kemp.

“Ek is mal oor langspeelplate en versamel dit saam met my pa. Met die video wou ek wys wie ek is as ’n musikant en plate speel ’n belangrike rol in die manier waarop ek na musiek luister. “Love Burn” is geïnspireer deur Avril Lavigne en die musiekvideo ook. Ons het op ’n 2000’s-pop-rock-tema besluit, met ’n drie-man-orkes – Richardt Oliver (tromme), Mike Kitchener (bas) en PC Vermaak (kitaar) om dit ’n werklikheid te maak. Ek het ’n egte outentieke tweedehandse Y2K-rok gedra saam met klassieke Chuck Taylor-tekkies,” verduidelik sy.

Wanneer jy haar uitvra oor die storie agter die video, verklap sy:

“Ek kyk na die musiek wat beskikbaar is in die winkel en verbeel my dat ek “Love Burn”, my eie liedjie, daar sing. Aan die einde besef ek dat dit net my verbeelding was. Vir my weerspieël dit hoe my drome om ’n sanger te word begin realiseer, maar dis steeds iets waaraan ek hard moet werk om dit te laat waar word.”

Christi Olivier se eerste soloalbum “Fall Apart” is nou op alle aanlynplatforms beskikbaar.

Soos met haar vorige musiekvideo, het sy gefokus op haar optrede om lewe in die musiek te blaas.

“Ek hou daarvan om optredes te doen. Dis een van my gunsteling-dele van my musiekreis en ek wou die video gebruik om my liefde hiervoor uit te beeld,” voeg sy by.

Die album, Fall Apart en enkelsnit, “Love Burn”, is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Christi Olivier se eerste soloalbum “Fall Apart” is nou op alle aanlynplatforms beskikbaar.

Related Articles

Back to top button