Local newsSport

Bailliepark-ster sluit atletiekseisoen af by SA’s

Lihann Kemp se optrede by die SA atletiekkampioenskappe het sy ma, Stefani Viljoen trots gemaak.

Lihann Kemp, die 11-jarige leerder van Laerskool Bailliepark wat stof in ander se oë hardloop het Dinsdag, 26 Maart aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe deelgeneem. Lihann het Noordwes in die o.11 1200-meter resies verteenwoordig.

Stefani Viljoen, Lihann se ma, het Dinsdag aan die Herald gesê dat Lihann baie gespanne is, maar dat hy sy beste gaan gee. “Hy het geweldige goeie kompetisie,” het Stefani opgemerk.

Lihann het 10e in die resies gekom met ‘n tyd van 03:56.

Lihann Kemp by die SA kampioenskappe. Foto: Verskaf.

Stefanie vertel dat sy as ouer ‘n baie trotse oomblik gehad het. “Hulle resies was verby en een van Gauteng se atlete se bene wou hom nie meer dra nie. Lihann het hom gehelp om te loop.” Op die uitsaaiing van die resies sien mens hoe die Gauteng atleet grond toe sak en ‘n mediese personeellid hom probeer ophelp. Lihann het onmiddelik nader gegaan, sy arm om die atleet gesit en hom help loop.

Lihann Kemp help ‘n Gauteng atleet wat nie meer kon loop nie. Foto: Verskaf.

Lihann se afrigter, André Olivier, is baie trots op Lihann. “Hy het ongelooflik hard geoefen en ek glo dat hy as atleet en ek as afrigter baie geleer het uit hierdie SA’s.” André noem verder dat hy en Lihann baie uitsien na die Landloop-seisoen wat in Mei vanjaar afskop.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button